ToekomsVenster: Jesus genees ’n doofstom man

blomme-kameeldoringbloeisel-gieter

Foto: Juanita Badenhorst.

Jesus is weer uit die gebied van Tirus weg en deur Sidon na die See van Galilea toe in die gebied van Dekapolis. Die mense bring toe ‘n dowe man wat ook ‘n spraakgebrek het na Hom toe en vra Hom om tog sy hand op hom te lê. Hy het hom eers eenkant toe gevat, weg van die mense af. Toe het Hy sy vingers in die man se ore gesteek en spoeg aan sy tong gesmeer. Daarna het Hy na die hemel toe opgekyk, gesug en vir hom gesê: “Effata!” Dit beteken: Gaan oop! Sy ore het dadelik oopgegaan, die belemmering van sy spraak het verdwyn, en hy het reg gepraat. Jesus het die mense belet om dit vir iemand anders te vertel, maar hoe meer Hy hulle belet het, hoe meer het hulle dit verkondig. Hulle is geweldig aangegryp en het gesê: “Alles wat Hy doen, is goed: die dowes laat Hy hoor en die stommes laat Hy praat.” – Markus 7:31-37

Die ongewone optrede van Jesus laat ʼn mens wonder. Is Jesus se modus operandi hier die aangewese ding om te doen wanneer vir dowes gebid word? Daar is tog baie dowe mense in Suid-Afrika en as hierdie wyse van optrede hul doofheid kan genees moet ons dadelik daarmee begin. By ʼn ander geleentheid maak Jesus modder met ʼn bietjie speeksel aan en smeer dit aan die blinde man se oë met die opdrag dat hy dit moet gaan afspoel.

Die gebed van ʼn regverdige het groot krag, leer die Bybel ons. Om vir siekes te bid lê op die pad van alle gelowiges. Die brief aan die Efesiërs het eweneens voorskrifte vir gebed vir siekes. “Bring die persone na die ouderlinge en laat die hulle met olie salf en die gebed sal genesing bring”.

Gebed vir genesing of geloof-/gebedsgenesing is ʼn misterie. Hoe werk dit? Vir wie moet ʼn mens bid en vir wie nie? Waarom word net sommige genees? Watter rol speel sonde, die duiwel, demone byvoorbeeld in genesing?

My verstaan is dat ons vir alle siekes bid en die resultate vir die Heilige Gees los. God is nie onredelik nie. Hy straf mense nie vir hul twyfel nie. Hy het empatie met mense wat alreeds swaar kry.

Genesing kom van God af. Hy verhoor alle gebede maar doen dit op sy manier en volgens sy bedoeling en tydskedule.

Is jy bereid om Jesus met jou en ander se genesing te vertrou?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.