ToekomsVenster: Jesus genees ʼn doofstom man

oor-gehoor-luister

Foto: Anemone123/Pixabay.com

Lees Matt. 15:29-31

Jesus is weer uit die gebied van Tirus weg en deur Sidon na die See van Galilea toe in die gebied van Dekapolis. Die mense bring toe ʼn dowe man wat ook ʼn spraakgebrek het na Hom toe en vra Hom om tog sy hand op hom te lê. Hy het hom eers eenkant toe gevat, weg van die mense af. Toe het Hy sy vingers in die man se ore gesteek en spoeg aan sy tong gesmeer. Daarna het Hy na die hemel toe opgekyk, gesug en vir hom gesê: “Effata!” Dit beteken: Gaan oop!

Sy ore het dadelik oopgegaan, die belemmering van sy spraak het verdwyn, en hy het reg gepraat. Jesus het die mense belet om dit vir iemand anders te vertel, maar hoe meer Hy hulle belet het, hoe meer het hulle dit verkondig. Hulle is geweldig aangegryp en het gesê: “Alles wat Hy doen, is goed: die dowes laat Hy hoor en die stommes laat Hy praat.”

Die ongewone optrede van Jesus laat ʼn mens wonder. Is Jesus se modus operandi die aangewese ding om te doen wanneer vir dowes gebid word? Daar is tog baie dowe mense in Suid Afrika en as hierdie wyse van optrede hul doofheid kan genees, moet ons dadelik daarmee begin. By ʼn ander geleentheid maak Jesus modder met ʼn bietjie speeksel aan en smeer dit aan die blinde man se oë met die opdrag dat hy dit moet gaan afspoel.

Die gebed van ʼn regverdige het groot krag, leer die Bybel ons. Om vir siekes te bid lê op die pad van alle gelowiges. Die brief aan die Efesiërs het eweneens riglyne vir gebed vir siekes. Bring die mense na die ouderlinge en laat dié hulle met olie salf en die gebed sal genesing bring.

Gebed vir genesing of sogenaamde geloofs- of gebedsgenesing is ʼn misterie. Hoe werk dit? Vir wie moet ʼn mens bid en vir wie nie? Waarom word net sommige genees? Watter rol speel sonde, die duiwel en demone in genesing?

Daar is mense wat ʼn bepaalde emosionele ingesteldheid aan bepaalde siektes koppel. Mense met kanker is byvoorbeeld onvergewensgesind, ander met asma dra bitterheid in hul harte rond. Ander boet met siekte omdat hul voorouers by dinge soos die Vrymesselaars betrokke was, en so kan ʼn mens voortgaan.

Hierdie manier van omgaan met mense se bestaande swaarkry is ongevoelig en meer dikwels koelbloedig. Verdere selfverwyt en skuld word op mense gelaai. As hulle byvoorbeeld net meer geglo het, as hulle nie getwyfel het nie of onmiddellik van bestaande medisyne ontslae geraak het.

My begrip is dat ons vir alle siekes bid en die resultate vir die Heilige Gees los. God is nie onredelik nie. Hy straf mense nie vir hul twyfel nie. Hy het empatie met mense wat reeds swaar kry. Genesing kom van God af. Hy verhoor alle gebede, maar doen dit op sy manier en volgens sy bedoeling en tydskedule.

Is jy bereid om Jesus met jou en ander se genesing te vertrou?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Eish ·

Voordat Jesus sy dissipels uitgestuur het, het Hy hul die gawe gegee om duiwels uit te dryf en siekes te genees. Voor dit, kon hul nie. Vandag ongelukkig, het geloofsgenesing in n totale sirkus ontaard vanweë onkunde.Byvoorbeeld, massas Suid Afrikaners is na TB Joshua, die profeet se genesingsdienste vir genesing. Onder andere n bekende rugbyspeler wat toe geen genesing ontvang het nie. Verder stort die “profeet” se kerk toe ineen met groot lewensverlies, ook Suid Afrikaners. Die profeet het dit nie sien kom nie. Baie dun ys hierdie een.

Lena Jonk ·

Jesus het my gesond gemaak van n baie groot kankergewas, sonder enige bestraling of chemo, maar ek het onvoorwaardelik Hom gevra om my te dra want ek is swak en kan nie meer aangaan nie omdat ek baie siek gevoel het. ,. Ek kan vandag getuig daarvan, het dit ook al vir baie mense vertel. Ek kan dit nie vir mense vertel hoe ek behoorlik gevoel het iemand dra my nie. Ons God hoor maar dan moet ons n vaste Geloof he. Ons God is Almagtig.

danie ·

Ek vind dit vreemd dat Jesus by sommige wonderwerke die mense gevra het om die gebeure te verkondig en by ander gevalle hulle belet het om dit te doen.

Esme ·

Die draaipunt is toe die Sanhedrin en daardie Joodse generasie Jesus as die Messias verwerp het in Matt 12. Lukas enigste boek chronologies. Voor dit het Jesus almal genees en vir mense gesê om dit te vertel. Na dit het Hy geloof vereis en gesê om dit nie te vertel nie aangesien die religieuse leiers al die tekens gesien het wat hulle self gesê het die Messias sal doen om Homself bekend te maak. Die volk verwerp Hom en dit word die “unpardonable sin” waarvoor die volk en die leiers van daardie generasie nie vergewe kon word nie en die straf was die 70AD vernietiging van die tempel. Han 2:40 sê Petrus in sy toespraak dat hulle (Joodse volk) hulself moet red van hierdie ontaarde mense, m.a.w. die mense wat Jesus verwerp het, en Hom aanvaar as die Messias.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.