ToekomsVenster: Jesus genees ’n verlamde man

sonneblom-02

Foto: Pexels/Pixabay.com

Daar kom toe mense wat ‘n verlamde man na Hom toe bring. Vier van hulle het hom gedra. Toe hulle hom weens die gedrang nie by Jesus kon kry nie, breek hulle die dak reg bokant Hom oop, en nadat hulle ‘n opening in die dak gemaak het, laat hulle die draagbaar waarop die verlamde man gelê het, daardeur afsak. Toe Jesus hulle geloof sien, sê Hy vir die verlamde: “Vriend, jou sondes word vergewe!” Maar sommige van die skrifgeleerdes het daar gesit en hulle afgevra: “Waarom sê hy so? Hy praat mos godslasterlik! Wie kan sondes vergewe behalwe God alleen?” Jesus het dadelik geweet dat hulle by hulleself so redeneer. Hy sê toe vir hulle: “Wat redeneer julle by julleself hieroor? Wat is makliker? Om vir die verlamde man te sê: ‘Jou sondes word vergewe’, of om te sê: ‘Staan op, vat jou draagbaar en loop’? –  Markus 2:3-9

Ai, die opgesmuktheid van die geestelikes van Jesus se dag. Hulle is grys van jaloesie. Mense stroom agter Jesus aan. Hulle laat Hom nie ʼn oomblik alleen nie. Dit laat die geestelikes onvergenoegd.

Daar moet met hierdie Jesus gehandel word. Nou nou loop die hele volk agter Hom aan. Watter kwalifikasies het Hy? Wie gee Hom die reg om so betrokke te raak by die geestelike lewens van mense?

Die verlamde se sondes word vergewe. Jesus maak Homself skuldig aan laster, sê hulle. “Net God kan sondes vergewe”.

“Wat is moeiliker,” vra Jesus. Genesing of sonde vergewe. Die antwoord is tog voor die hand liggend.

Uiteraard om hierdie man van sy ongesteldheid te genees. Net God kan dit doen. Dis nie die werk van mense nie.

Jesus genees die verlamde en hy staan op uit sy draagbaar. Dis duidelik ʼn Godsdaad. Hier het ons met die Messias te doen. Die skare is gaande. So iets het ons nog nooit gesien nie, sê hulle.

Die Spreuke digter sê daar is ʼn vriend wat nader is as ʼn broer. Die verlamde is buitegewoon gelukkig. Hy het vier intieme vriende. Manne wat genoeg omgee. Hulle draai nie om as die skare toegang tot Jesus onmoontlik maak nie. Hulle is skeppend en innoverend. Dalk redeneer hulle – “ons dra hierdie man nie wéér huis toe, hy lóóp terug! Ons het gekom vir genesing, en dis wat ons gaan ontvang”.

Jesus is aangegryp deur die weldaad van die vriende. Dis sprekend van geloof. Dis ongekend en voorbeeldig.

Het jy ook sulke vriende? Jy is gelukkig en geseënd. Is jy so ʼn vriend? Dan is ander geseënd en gelukkig.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kobus Scheepers ·

Geen fout te vind met bg skrywe nie, MAAR:
Ai die opgesmuktheid van die geestelikes van ONS dag. Hulle leer daar is weggedoen met die wet, maar wat leer Jesus?
Johannes 14:15 “As julle My liefhet, bewaar my gebooie.”
Johannes 14:21 “Wie my gebooie het en dié bewaar, dit is hy wat My liefhet; en wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom liefhê en My aan hom openbaar.”
Johannes 14:24 “Hy wat My nie liefhet nie, bewaar my woorde nie; en die woord wat julle hoor, is nie myne nie, maar is van die Vader wat My gestuur het.”
Hiermee gee ek nie voor dat ek my redding deur wetsgehoorsaamheid kan koop nie, nee die redding het Jesus gebring en ons moet in Hom glo, maar ons moet ook nie voorgenoemde uitlatings van Hom verontagsaam nie.
Kies wie jy glo, jou prediker, pastoor, kerkverband of Jesus ons Messias.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.