ToekomsVenster: Jesus genees ʼn verlamde man

voetspore.jpg

Argieffoto

Toe Jesus ná ʼn paar dae weer in Kapernaum kom, het dit bekend geword dat Hy by die huis is. Baie mense het daar saamgedrom, sodat daar selfs by die deur nie meer plek was nie. Hy was besig om met hulle oor sy boodskap te praat. Daar kom toe mense wat ʼn verlamde man na Hom toe bring. Vier van hulle het hom gedra. Toe hulle hom weens die gedrang nie by Jesus kon kry nie, breek hulle die dak reg bokant Hom oop, en nadat hulle ʼn opening in die dak gemaak het, laat hulle die draagbaar waarop die verlamde man gelê het, daardeur afsak. Toe Jesus hulle geloof sien, sê Hy vir die verlamde: “Vriend, jou sondes word vergewe!” Maar sommige van die skrifgeleerdes het daar gesit en hulle afgevra: “Waarom sê hy so? Hy praat mos godslasterlik! Wie kan sondes vergewe behalwe God alleen?” Jesus het dadelik geweet dat hulle by hulleself so redeneer. Hy sê toe vir hulle: “Wat redeneer julle by julleself hieroor? Wat is makliker? Om vir die verlamde man te sê: ‘Jou sondes word vergewe’, of om te sê: ‘Staan op, vat jou draagbaar en loop’? Maar Ek gaan nou vir julle die bewys lewer dat die Seun van die mens volmag het om op die aarde sondes te vergewe.” Hy sê toe vir die verlamde man: “Ek sê vir jou: Staan op, vat jou draagbaar en gaan huis toe.” Hy het opgestaan, dadelik sy draagbaar gevat en voor die oë van almal uitgestap. Hieroor was hulle almal verbaas en het hulle God geprys en gesê: “So iets het ons nog nooit gesien nie!” – Markus 2:1-12

Ai, die opgesmuktheid van die geestelikes van Jesus se dag. Hulle is grys van jaloesie. Mense stroom agter Jesus aan. Hulle laat Hom nie ʼn oomblik alleen nie. Dit laat die geestelikes onvergenoegd. Daar moet teenoor hierdie Jesus opgetree word. Nou nou loop die hele volk agter Hom aan. Watter kwalifikasies het Hy? Wie gee Hom die reg om so betrokke te raak by die geestelike lewe van mense?

Die verlamde se sondes word vergewe.

“Jesus maak Homself skuldig aan laster,” sê hulle. “Net God kan sondes vergewe.”

“Wat is moeiliker,” vra Jesus, “genesing of sonde vergewe?”

Uiteraard is dit om hierdie man van sy ongesteldheid te genees. Net God kan dit doen. Dis nie die werk van mense nie.

Jesus genees die verlamde en hy staan op uit sy draagbaar. Dis duidelik ʼn Godsdaad. Hier het ons met die Messias te doen. Die skare is gaande. So iets het ons nog nooit gesien nie, sê hulle.

Die Spreukeskrywer sê daar is ʼn vriend wat nader is as ʼn broer. Die verlamde is buitegewoon gelukkig. Hy het vier intieme vriende. Manne wat genoeg omgee. Hulle draai nie om wanneer die skare toegang tot Jesus onmoontlik maak nie. Hulle is skeppend en innoverend. “Ons dra hierdie man nie weer huis toe nie,” redeneer hulle by hulself. “Ons het gekom vir genesing, en dis wat ons gaan ontvang.”

Jesus is aangegryp deur die weldaad van die vriende. Dis sprekend van geloof. Dis ongekend en voorbeeldig. Het jy ook sulke vriende? Jy is gelukkig en geseënd. Is jy so ʼn vriend? Dan is ander geseënd en gelukkig.

Lees weer die teks. Wie bring jy vandag na Jesus toe?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.