ToekomsVenster: Jesus het die hemel agtergelaat

blomme-pienk-deur-kristina-paukshtite-pexels

Foto: Kristina Paukshtite/Pexels.com

En toe Hy as mens verskyn het, het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis. – Filippense 2:7-8

Niks wat die moeite werd is, kom sonder opoffering en harde werk nie. Die waarde van ’n saak word gedemonstreer deur die energie en toewyding wat daarmee gepaard gaan.
Hoe groter die prys en beloning, hoe intenser die toewyding en opoffering wat dit vra.

Min suksesvolle mense het die hoogste sport bereik sonder opoffering en toewyding.

Presies hoe ernstig Jesus die redding van mense neem word weerspieël in die opoffering wat Hy bereid was om te maak. Die feit dat Hy sy hemelse heerlikheid verlaat om tussen mense te kom woon wat met Hom en sy bediening niks te doen wou hê nie, sê alles.

Jesus het geweet dat sy lewe uiteindelik van Hom weggeneem sou word. Hy het geen illusie gehad oor wat hierdie reddingshandeling van Hom sou vra nie. Daar is net een verduideliking vir sy bereidwilligheid om sy lewe af te lê en dit is die liefde wat sy Vader vir mense het.

Wat is vir jou belangrik gedurende hierdie Kerstyd en wat is jy bereid om altaar toe te bring ten einde dit ʼn werklikheid te maak?

Vir sommige dinge moet ʼn mens bereid wees om die hoogste prys te betaal.
Dit beteken verskillende dinge vir verskillende mense.
Dink ʼn bietjie hieroor na.

As Jesus omgedraai het en gesê het: “Vader, wat U van my vra is onredelik en te veel,” was ons nog verlore.

Jesus het in sy geestesoog die skare van miljoene der miljoene mense gesien wat gered sou word as Hy die pad konsekwent en enduit sou loop. Hy het ook die skare van miljoene der miljoene mense gesien wat die ewigheid sonder hoop tegemoetgaan as Hy sou huiwer en omdraai.

Wat is die konsekwensie van die besluite wat jy moet maak? Wat gebeur as jy dit nie doen nie? Jou gesin onversorg, jou potensiaal nie bereik nie. Hoe raak dit ander mense?
Wat beteken koninkryk vir jou en wat is jy bereid om daarvoor op te offer?

Romeine 12 wek ons tot gehoorsame toewyding.

Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.

My lewe op die altaar soos syne. Ons sing dit: “Neem my lewe laat dit Heer.”
Leef ons dit?
Leef jy dit?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

susan ·

Neem my lewe Heer laat dit U gewy wees meer en meer. Laat my nie verlore gaan.

Michelle ·

Here ek het U baie nodig. Ek bring myself na U altaar toe baie dankie dat ek vandag kan se ek weet wat U wil met my is. Amen

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.