ToekomsVenster: Jesus is altyd betyds

uurglas

Foto: Samer Daboul/Pexels.com

Jesus het daarna met die skuit teruggevaar oorkant toe en toe Hy nog daar by die see was, het ‘n groot menigte om Hom saamgedrom. Een van die raadslede van die sinagoge, ‘n man met die naam Jaïrus, kom toe daar aan. Net toe hy vir Jesus sien, val hy op sy knieë voor Hom en smeek Hom dringend: “My dogtertjie lê op haar uiterste. Kom lê tog u hande op haar, sodat sy kan gesond word en lewe.” Daar was ook ‘n vrou wat al twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het. – Lees Markus 5:21-43

Die gedeelte is vol van uiteenlopende emosie. Die desperate Jairus wie se dogtertjie op sterwe lê, die beslistheid van die vrou wat aan bloedvloeiing lei en haar benoudheid as sy agterkom dat sy van haar siekte genees is. Daarmee saam die huil en te kere gaan van die vriende en familielede van Jairus as Jesus uiteindelik daar aankom en dan die verrassende grynslag van dieselfde mense as hulle van Jesus hoor dat die dogtertjie nie dood is nie, maar net slaap.

Jesus, vergesel van drie van sy dissipels, vertrouelinge wat meermale saam met Jesus optree, sowel as die dogtertjie se ouers gaan die vertrek waar die dooie twaalfjarige lê, binne. Die teks verklap nie wat in die mense saam met Jesus se harte omgaan nie.

Wat dink jy het hulle in die stilligheid by hulself gedink? Wat sou jy dink gegewe die omstandigheid? Immers, die dogtertjie het reeds gesterf, was dit nie inderdaad te laat gewees nie?

Die spanning in die verhaal bou op wanneer die gebeure as’t ware onderbreek word deur die episode van die vrou wat aan bloedvloeiing gely het. Dit is asof ʼn mens haar wil vra om eenkant te staan sodat Jesus by die belangrike dinge kan uitkom. Immers, sy is volwasse, die dogtertjie het die lewenspad nog nie eers aangedurf nie. Sy het seker al begin vrede maak met haar ongerief, staan eerder opsy dat Jesus aan dringender sake aandag kan gee!

Die skrywer wil ons eie ongemak ietwat verhoog. Jesus kan mos altyd later aan die vrou aandag gee.

As die mense van die raadslid met die slegte nuus dat die dogtertjie inderdaad gesterf opdaag oorval ʼn gevoel van moedeloosheid jou. As Jesus net ʼn bietjie vinniger gemaak het!

Voel jy somtyds dat Jesus onnodig lank draai?

Jesus is altyd betyds, Hy is nooit laat nie. Die verhaal van die opwekking van Lasarus dra dieselfde boodskap. Moenie begin twyfel nie.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.