ToekomsVenster: Jesus is gesalf deur die Heilige Gees


Foto: pixabay.com

Foto: pixabay.com

JESUS IS DEUR DIE HEILIGE GEES GESALF EN MET KRAG TOEGERUS

In sy toespraak by Kornelius se huis, het Petrus in Handelinge 10:38 vir sy  familie en vriende vertel:

Julle weet van Jesus van Nasaret, dat God Hom met die Heilige Gees gesalf en met krag toegerus het. Hy het rondgegaan, oral goeie werke gedoen en almal gesond gemaak wat in die mag van die duiwel was,  want God was by Hom.

Vir die Nuwe Testamentiese gelowiges was dit duidelik dat Jesus se  buitengewone bediening geleë was in die salwing en krag van die Heilige Gees. Lukas berig in hoofstuk 3:21 dat die Heilige Gees reeds met die aanvang van Jesus se bediening by sy doop in ʼn sigbare gestalte op Hom neergedaal het. Kort daarna toe Jesus ná 40 dae van vas en gebed in die woestyn teruggekeer het, berig Lukas nogeens in hoofstuk 4:2: Jesus het vol van die Heilige Gees van die Jordaan of teruggekom en deur die Gees is Hy na die woestyn toe gelei. En in Lukas 4:14 lees ons: Jesus het na Galilea toe teruggegaan vol van die krag van die Gees …

Dit verduidelik dan ook waarom Jesus vir sy dissipels opdrag gegee het om niks te doen voordat húlle nie met die Heilige Gees gedoop is nie, Handelinge 1:4. Dis die geboortereg van elke gelowige in Christus Jesus! Weliswaar aanvaar alle  gelowiges nie hul geboortereg nie, maar dit is vir almal bedoel – deur God beloof en deur Hom voorsien!

Waarom moet elke gelowige die salwing en krag van die Heilige Gees begeer en najaag? In Jesus se belofte in Handelinge 1:8, sowel as in die vervulling van daardie belofte in Handelinge 2:11b, is dit duidelik dat die teenwoordigheid van die Heilige Gees van gewone mense kragtige getuies van Jesus maak!

Die Griekse woord dunamis, wat ons met krag vertaal, dien as basisvorm vir dinamiet. Waar die Heilige Gees werksaam is, word daar energie vrygestel:

  • Ongelowiges word gered!
  • Buitestanders word deel van die binnekring.
  • Skeptici word entoesiaste!

Nadat Petrus onder leiding van die Heilige Gees begin leef het, lees ons in Handelinge 2:4 dat dieselfde man wat te bang was om teenoor ʼn diensmeisie te erken dat hy Jesus ken met soveel krag gepreek het dat 3 000 mense tot bekering gekom het. Daarna het sy woorde én dade ʼn kragtige uitwerking gehad. Wanneer Petrus vir die verlamde man by die tempel in Handelinge 3:6 sê: Geld het ek nie; maar wat ek het, gee ek jou: In die Naam van Jesus Christus van Nasaret staan op en loop, is daar krág  in Petrus se woorde, want die verlamde man staan op en hy loop!

Die Heilige Gees wil jou ook ʼn getuie met invloed maak! Hy stel jou in staat om gemaklik en spontaan van God se groot dade te vertel! Hy verander jou in iemand wat nie kan stilbly oor Jesus Christus nie! Jy sal sien: Wanneer jy in en deur sy krag getuig, word mense gered!

Ek glo dat mense wat die Heilige Gees met hul redding ontvang het, slegs nodig het om hulself beskikbaar te maak vir die buitengewone werk van God se Gees.  Jy hoef nie eens jou lewe sogenaamd in orde te kry voordat jy vir die krag en die salwing van die Heilige Gees kwalifiseer nie. Daarvoor het Jesus mos aan die kruis gesterf. Sy bloed reinig jou van álle sonde. As jy Hom aangeneem het as jou Saligmaker is jy gereinig en geheilig en oorhandig Hy jou aan Heilige Gees. As jy nie jou geboortereg aanvaar nie, is dit jou eie skuld! Dis gewis vir jou bedoel!

TOEWYDINGSMOMENT

Begeer jy ʼn lewe deur die krag van die Heilige Gees? Verlang jy daarna om die Gees van God te sien beweeg wanneer jy aangaande Jesus getuig? Het jy jou hart daarop gesit om nie alleen die Heilige Gees te ken nie, maar Hom ook toe te laat om deur jou te werk? Praat met Hom daaroor.

GEBED

Heilige Gees, ek wil nie een oomblik langer verspil op leë woorde of ʼn kragtelose gebedslewe nie. Dankie dat U my veel meer bied as buitengewone ervarings. Ek prys U, Here, dat dit te make het met resultate en bewyse van u teenwoordigheid op aarde! Dankie dat ek die uitkomste van u wonderlike werk in my lewe sal sien! Amen.

PRAKTYK

Jy hoef nooit weer uit eie krag vir iemand ’n antwoord te gee of vir ’n sieke te bid nie. God se krag wil en sal deur jou aan mense raak. Leef bewustelik vanuit hierdie wete. Bid vandag nog vir iemand, terwyl jy die Heilige Gees toelaat om in en deur jou te bid. Geniet jou lewe saam met God!

ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.