ToekomsVenster: Jesus is Here oor die Sabbat

gebed-hande

Foto: Amaury Gutierrez/Unsplash.com

Hy sê vir hulle: “Het julle nog nooit gelees wat Dawid gedoen het toe hy en sy manne nie kos gehad het nie en honger gekry het? Hy het in die tyd van die hoëpriester Abjatar in die huis van God ingegaan en van die offerbrood geëet, wat niemand anders as die priesters mag geëet het nie, en ook vir sy manne daarvan gegee.” – Markus 2:25-26

Dis dieselfde scenario as in die voorafgaande gedeelte  wat homself hier herhaal, nie waar nie? Daar het dit gegaan  oor vas, nou gaan dit oor die pluk van koringare op die Sabbat. Ai, die verleiding en verduistering van ons gemoed.

Watter vreugde kan daar wees in die nakom van allerlei wette en voorskrifte? Waar pas genade in? Waar is God se barmhartigheid en liefde in hierdie sake te bespeur?

Eerder honger en aan wette gehoorsaam wees.

Is dit wat ʼn lewe in volheid beteken?

Is dit hoe die Verbondsgod seën en voorsien?

Die mens in diens van wette en reëls of wette en reëls (riglyne) in diens van mense?

Dit was nog altyd die uitdaging. Dis asof die mens vryheid nie kan hanteer nie. Paulus in Galasiërs vra juis hoe dit is dat mense wat in vryheid begin het kortpad kies na gebondenheid.

Geniet jy jou verhouding met die lewende Here of is dit soos oortollige gewig wat jy met jou moet saamdra?

Miskien verstaan jy die Evangelie verkeerd.

Dis Goeie Nuus.

Die Sabbatdag, nuwe Testamenties, Sondag, staan in diens van mense.

Die karakter daarvan is anders as ander dae anders sou dit tog nie uitgesonder word nie.

Na God se skeppingshandelinge voltooi het neem Hy ʼn rusdag, ʼn afdag, ʼn “tot verhaal kom” dag.

God het hierdie ritme bepaal.

“Ses dae sal jy aarbei en al jou werk doen en die sewende dag sal jy rus, ook ander mense rondom jou”.

Sondag is vir die mens en nie andersom nie. Die Nuwe Testament stel vir ons ʼn voorbeeld van wat mense op hierdie dag gedoen het.

Hulle het dit in besonder gebruik om aandag te gee aan hul verhouding met die Here en met mekaar as geloofsvennote.

Sê jy ook dat jy die Here net so goed kan dien by die viswaters, krieketstadion of gholfbaan? Sonder om weer in die strik van voorskriftelikheid te verval wil ek vra watter openbaringe van God jy al daar ontvang het?

Het die elemente van ʼn Sondag erediens ook daar tot hul reg gekom?

Skriflesing, gebed, verootmoediging, lof en aanbidding … dis dinge wat mense wat die Here ken en liefhet gedoen het en steeds doen op daardie dag.

Hoe rig jy jou Sondae in?

As ons weer luister na die gelese gedeelte kan jy miskien jouself afvra in watter mate God se rusdag in jou lewe tot sy reg kom. `

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Frank ·

Dankie Jannie, goed uiteengesit. Dan kry jy ook diesulkes wat die erediens “formaliteit” gou gou gaan aframmel (gedagtes natuurlik elders), sodat hulle inkopiesentrums ens toe kan gaan. En dis nou waar die “ook ander mense rondom jou” ter sprake kom. Watter liefde betoon jy hulle as jy hulle weerhou daarvan om erediens by te woon en met die dinge van die Here besig te hou!!

Sarel ·

Van wat ek verstaan is die Joodse Sabbat van Vrydag sonsondergang tot Saterdag sonsondegang, terwyl die Westerse Christene dit op ‘n Sondag herdenk.

Quinten ·

Die jode hou die regte Sabbat, Sondag is n Rooms Katolieke instelling van die Sabbat wat die aanbidding van die songod is.

HFC ·

Jy is reg Sarel en die werklike Sabbat volgens die Skrif is van sonop Saterdag tot sonop Sondag.

Victoria Koorzen ·

Toe nie, hoor. Dit is vanaf sonsondergang op Vrydag dwarsdeur tot sonsondergang op Saterdag.

Piet ·

Num.15:32-36. God het ‘n man wat brandhout versamel het op die Sabbat tot die dood veroordeel. Die weeklikse Sabbat dag begin teen sonsondergang op Vrydag en eindig teen sonsondergang op Saterdag. Die Sabbat is nie net ‘n rusdag nie. Dit is ook deur God ingestel toe hy ons geskep het om vir ons ‘n dag te gun wat ons spesifiek kan wy aan God. Exodus 20:8. God beveel ons om die Sabbat heilig te hou. Soos, onder andere gestaaf in Jes 56:1-7; Jes. 66:15-16, Jes 66:18, Jes. 66:22-23; Ese. 46:1, Ese 46:4 en Ese 46:12, bly die Sabbat behoue, selfs in die toekoms, wanneer Jesus oor die aarde regeer.

HFC ·

Piet, die gebruik van sononder op Vry tot sononder op Sa is nie korrek want die Skrif leer duidelik op baie plekke dat die Sabbat begin met sonop op Sa en eindig met sonop op So.

Volger ·

Nee HFC, Jesus is op ñ Vrydag gekruisig. Hul kon nie sy lyk balsem nie, want hy is eers laat Vrydag middag van die kruis af gehaal en dit was toe Sabbat.

Lukas 23: 52 tot Lukas 24: 1

Quinten is reg, die Jode doen dit op die regte tye, soos hulle dit al vir eeue doen, van die Bybel se tyd af. Nee, van die Skepping af!

Kobus ·

Ai, ons is tog so traag om te verstaan.
Ja, Jesus is Here oor die Sabbat – nie die mens nie. Wie gee ons die reg om die Sabbat wat God ingestel het te verander, en dit nogal na die dag van sonsaanbidding, naamlik die Sondag, te skuif. Eiegeregtigheid op sy beste.
Eksodus 20:10 “maar die sewende dag is die sabbat van die HERE jou God; dan mag jy géén werk doen nie ….”
Matt 5:9 “Elkeen dus wat een van die minste van hierdie gebooie breek en die mense só leer, sal die minste genoem word in die koninkryk van die hemele; maar elkeen wat dit doen en leer, hy sal groot genoem word in die koninkryk van die hemele.”
Matt 15:9 “Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is.”
Johannes 14:21 “Wie my gebooie het en dié bewaar, dit is hy wat My liefhet ….”
Johannes 15:10 “As julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die gebooie van my Vader bewaar en in sy liefde bly.”
Luister wat sê Jesus en doen soos Hy sê, los die leerstellinge van mense!

Kobus ·

Ai, ons is tog so traag om te verstaan.

Exodus 20:10 “maar die sewende dag is die sabbat van die HERE jou God; dan mag jy géén werk doen nie ….”
Jesus Spreek onder andere die volgende aanhalings:
Matt. 5:19 “Elkeen dus wat een van die minste van hierdie gebooie breek en die mense só leer, sal die minste genoem word in die koninkryk van die hemele; maar elkeen wat dit doen en leer, hy sal groot genoem word in die koninkryk van die hemele.”
Matt. 15:9 “Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is.”
Joh. 14:21 “Wie my gebooie het en dié bewaar, dit is hy wat My liefhet ….”
Joh. 15:10 “As julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die gebooie van my Vader bewaar en in sy liefde bly.”

Op geen plek in die Bybel het Jesus die instruksie van die Sabbatsgebod verander nie, nee ons mense het dit eiewilliglik verander.

Bekeer julle tot Jesus en luister na Sy Woorde.

Herman ·

Volgens my werk moet ek gemiddeld 2 Sondae werk.
Wat staan ons te doen?

Sharlene ·

Die een vraag wat niemand nog aan my bewys het nie is: Waar word dit spesifiek gespisifiseer en genoem in die bybel dat dit VRYDAG SATERDAG of selfs n MAANDAG is wat ons 7de dag is? Word die dag en week genoem? Dit word slegs die Sabbat dag genoem die rusdag maar was die Saterdag nie ook maar n mensgemaakte insteing nie? Weet ek gaan sekerlik ge oordeel word maar wonder net.

HFC ·

Volger, Hy is op Woensdag gekruisig en Donderdag was ‘n jaarlikse (groot) sabbat(ongesuurde brode fees) . As dit Vrydag was hoe kry jy 3 dae en 3 nagte tot by Sondag oggend wat hy reeds opgestaan was? Hier is ongelukkig nie genoeg spasie om jou mooi presies te verduidelik hoe dit gewerk het nie.

HFC ·

Van Adam se tyd af het hulle presies geweet watter dag die Sabbatdag is tot waar Jesus gekom het. As hulle die verkeerde dag gebruik het sou Jesus hulle tog reg gehelp het. Gaan doen navorsing en jy sal sien dat Sondag die 1ste dag van die week was en nog steeds 2000 jaar na Jesus dit steeds is soos die kalenders dit ook aan toon. Daar is lank na Jesus eers werklik afstand gedoen van die numeriese dag name en die Romeinse dag name begin gebruik.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.