ToekomsVenster: Jesus is Here oor die Sabbat

rusbank

Foto: Biancamentil/Pixabay.com

Eenkeer toe Jesus op ‘n Sabbatdag tussen gesaaides deur loop, het sy dissipels so in die loop are begin afpluk. Die Fariseërs sê toe vir Hom: “Kyk daar! Waarom doen hulle iets wat nie op die Sabbatdag gedoen mag word nie?” Hy sê vir hulle: “Het julle nog nooit gelees wat Dawid gedoen het toe hy en sy manne nie kos gehad het nie en honger gekry het? Hy het in die tyd van die hoëpriester Abjater in die huis van God ingegaan en van die offerbrood geëet, wat niemand anders as die priesters mag geëet het nie, en ook vir sy manne daarvan gegee.” Jesus het verder vir hulle gesê: “Die Sabbatdag is vir die mens gemaak en nie die mens vir die Sabbatdag nie. Daarom is die Seun van die mens Here óók oor die Sabbat.” – Markus 2:23-28

Dis dieselfde scenario wat hier herhaal word, nie waar nie? In die voorafgaande gedeelte het dit oor vas gegaan; nou gaan dit oor die pluk van koringare op die Sabbat.

Ai, die verleiding en verduistering van ons gemoed. Watter vreugde kan daar wees in die nakom van allerlei wette en voorskrifte? En waar pas genade in? Waar is God se barmhartigheid en liefde in hierdie sake te bespeur?

Ons kies om eerder honger te wees – solank ons tog net gehoorsaam is aan die wette.

Is dit wat ʼn lewe in volheid beteken?

Is dit hoe die Verbondsgod seën en voorsien?

Is die mens in diens van wette en reëls? Of is wette en reëls in diens van die mens?

Dit was nog altyd die uitdaging. Dis asof die mens nie weet hoe om vryheid te hanteer nie. Galasiërs vra juis hoe dit is dat mense wat in vryheid begin het, kortpad kies na gebondenheid. Geniet jy jou verhouding met die lewende Here, of is dit soos oortollige gewig wat jy met jou moet saamdra?

Miskien verstaan jy die Evangelie verkeerd …

Dis immers veronderstel om Goeie Nuus te wees!

Die Sabbatdag, oftewel die Nuwe Testamentiese Sondag, staan in diens van mense. Die aard daarvan is anders as ander dae, anders sou dit tog nie uitgesonder word nie. Ná God sy skeppingsdade voltooi het, neem Hy ʼn rusdag, ʼn afdag, ʼn tot-verhaal-kom-dag. God het hierdie ritme bepaal. Ses dae sal jy arbei en al jou werk doen en die sewende dag sal jy rus, jy én die mense rondom jou.

Sondag is vir die mens bedoel, nie andersom nie. Die Nuwe Testament stel vir ons ʼn voorbeeld van wat mense op hierdie dag gedoen het. Hulle het dit veral gebruik om aandag te gee aan hul verhouding met die Here en aan mekaar as geloofsvennote.

Sê jy ook dat jy die Here net so goed kan dien by die viswaters, krieketstadion of gholfbaan? Sonder om weer in die strik van voorskriftelikheid te verval wil ek vra watter openbaringe van God jy al daar ontvang het? Het die elemente van ʼn Sondag-erediens ook daar tot hul reg gekom? Skriflesing, gebed, verootmoediging, lof en aanbidding … dis dinge wat mense wat die Here ken en liefhet op daardie dag gedoen het en steeds doen. Hoe rig jy jou Sondae in?

As ons weer luister na die Skrifgedeelte, kan jy jouself miskien afvra in watter mate God se rusdag in jóú lewe tot sy reg kom.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Dawid ·

So ons vat SONdae as die sabat dag? Julle weet seker dat die Sabat dag eindlik saterdag is ne? En dit is wat GOD geskep het. Om die Sabat te verdraai is om God se skeping te vir draai.

Charl Venter ·

Pragtige gedagte my maat maar net een groot fout, sabbat is nie Sondag nie maar Saterdag vriend. God het Sabbat geseen en vir die mens geskep maar nerings in Sy woord word sabbat gevier op n Sondag. Asb die woord is baie duidelik oor die dag.

Vriendelike groete n broer in Christus.

Se net ·

Ai tog nerens in die Bybel praat dit van sondag nie die Sabbatdag is n Saterdag

Se net ·

Dis so waar hou die sabbatdag(Saterdag) heilig en jul sal geseend wees

MCH ·

Sabbat verander na die ” eerbiedwaardige dag van die son” tyd ens n besluit van beraad van Nicea ongeveer 321NC. Konstantyn wat keiser was, was voorsitter van die beraad. Katolieke kerk erken in sy geskrifte te dat hul verantwoordelik was daarvoor. Wette , veral vierde gebod geld nie meer nie. Blykbaar aan kruis vasgespyker. Jesus se Hy het gekom om die wet te vervul. Hy het die Sabbat gehou en ons gewys hoe om dit te doen. Sien Mattheus 5:17-19. ” … voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verby gaan tot dat alles gebeur het nie.”
Sondag is die eerste dag van die week punt! Die goed is al in Daniel 7:25 voorspel:” …En hy sal probeer om tye en wet te verander….

Kobus ·

God het beveel: jy mag geen werk.doen op die Sabbath dag nie – die rus dag is geskuif deur die pousdom. Geen mens mag die Heilige Vader se dag skuif nie. Mense die jode vier vandag nog die regte Sabbath soos God dit beveel het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.