ToekomsVenster: Jesus kondig sy dood en opstanding aan

dra-n-kruis

Argieffoto.

Toe het hulle daarvandaan weggegaan en deur Galilea gereis. Jesus wou nie hê dat iemand anders dit te wete moes kom nie. Hy het sy dissipels geleer en vir hulle gesê: “Die Seun van die mens word in die hande van mense oorgelewer, en hulle sal Hom doodmaak; en drie dae nadat Hy doodgemaak is, sal Hy opstaan.” Hulle het dit nie verstaan nie, maar hulle was te bang om Hom daaroor uit te vra. – Markus 9:30-32

Jesus berei sy dissipels voor op sy naderende dood. Hulle verstaan nie en wil nie verstaan nie. Die gedagte is vreesaanjaend en onverstaanbaar. Hoe kan die Messiaskoning deur mense doodgemaak word? Nie lank terug nie het Petrus die geopenbaarde waarheid verwoord “U is die Christus die Seun van die lewende God”. Nou praat die Christus die Seun van die lewende God van dood.

Die drie intieme vertrouelinge van Jesus het sommer nou die dag nog gehoor hoedat die Vader sy Seun aanbeveel “dit is my geliefde Seun, luister na Hom”. Nou kondig die Seun sy dood aan en dit aan die hande van mense. Oorgelewer in die hande van mense, hoe arrogant, en hulle sal Hom doodmaak. Drie dae later sal Hy weer opstaan.

Jesus is op pad na Jerusalem, die plek waar Hy wreedaardig en koelbloedig tereggestel sal word. Hy huiwer nie. Hy weet waarom die Vader Hom gestuur en waarvoor Hy Homself bereidwillig verklaar het. Niemand neem sy lewe nie. Hy gee dit as losprys vir baie. Jesus leef egter met die perspektief van die opstanding. Sy Vader het dit reeds aan Hom openbaar. Die dood kan Hom nie vashou nie. Hy is sterker as die dood. Hy is die lewe. Die dood word in die lewe opgelos soos ʼn oplospilletjie in water. Die dood se heerskappy sal eersdaags finaal gebreek word. Saam met Paulus sal elke gelowige uitroep “Dood, waar is jou angel? Doderyk waar is jou bedreiging?”

Vrees jy die dood? Ja, dis vreemd en soos ʼn onwelkome gas. Die gas gáán sonder dat jy en ek enige iets daaraan kan doen by ons aandoen. Daarmee moet ons verlief neem.

Die gas se sinnestere agenda is egter opgehef. Die gas verander van gedaante. Dis nie meer vreemd en onvriendelik nie. Dis noodwendig en sonder bedreiging.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.