ToekomsVenster: Jesus loop op die see

Foto: Billy Berg/Unsplash.com

Toe dit aand word, was die skuit al ver weg die see in en Jesus alleen op die strand. Hy het gesien hulle roei swaar, want die wind was teen hulle. Teen dagbreek die volgende môre het Hy op die see na hulle toe aangeloop gekom, en Hy wou langs hulle verbygaan. Toe hulle Hom op die see sien loop, het hulle gedink dit is ‘n spook. Hulle het hard geskreeu, want hulle het Hom almal gesien en groot geskrik. Maar Hy het dadelik met hulle gepraat en vir hulle gesê: “Wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie.” – Lees Markus 6:45-52

Jesus verdaag die skare en spandeer tyd in gebed terwyl die dissipels vertrek. Ek wonder hoe het die dissipels gereken gaan Jesus by hulle aansluit. Sou daar ʼn geleentheid saam met iemand wees, of hoe?

Van waar Jesus Homself bevind kan Hy sien dat die dissipels met moeite roei. Jesus haas hulle nie tegemoet nie. Sy alomteenwoordigheid sal hulle bewaar. Dis al bykans dagbreek as Hy by hulle verbygaan. Ek dink stellig Jesus wou hulle reaksie toets. Hy en sy dissipels het dalk na hierdie episode lekker gelag.

Te midde van die onmag en gevaar kom Jesus se bemoedigende woorde. “Moenie bang wees nie”. Dié oproep loop soos ʼn refrein dwarsdeur die Bybel. Dis die een emosie wat alle mense by tye deel. Bang wees.

Jesus verdryf alle vrees.

Die wind van voor. Ons ken die uitdrukking. Dit gaan nie maklik nie en verg baie inspanning. Kapenaars ken wind. As die Suidooster waai moet ʼn mens vashou of jy word weggewaai.

Wanneer ʼn mens vir die Here werk kan jy verwag dat die wind van voor jou spoed sal wil breek. Dit gaan moeite verg. Weerstand is ʼn kenmerk van Koninkrykwerk. Die duiwel is ʼn mense moordenaar en van die begin af weerstandig. Hy kry dit reg om baie mense moedeloos te laat opgee. Geen wonder dat die Hebreër skrywer ons juis maan om die oë op Jesus gevestig te hou nie, die begin en die voleinder van die geloof.

Daar is ook sprake van ʼn ander wind, die wind van die Gees. As die duiwel soos die wind van voor is kan ʼn mens seker sê dat die Heilige Gees die wind van agter is. Die geluid van ʼn geweldige rukwind en tonge van vuur het op Pinksterdag baie jare gelede die apostels bemagtig vir die groot taak wat voor hulle gelê het.

Gaan en maak dissipels van alle nasies. Leer en onderrig hulle. Ek is met julle.

Is jy ook “wind” bewus, maar veel eerder die wind van voor. Dank God vir die wind van voor. Jy doen iets reg. As daar geen weerstand kom nie kan jy met reg vra of jy die Here reg hoor en inderdaad met sy werk besig is.

Hou op kla. Jesus kom na jou toe in die wind van agter en die wind van Bo. Jesus bring vrede en verlossing. Jesus spreek ʼn woord en die wind bedaar. Jesus het al die gesag en mag wat nodig is dat jy jou werk met oortuiging en oorgawe kan doen.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Charles ·

Wel die woord van God se Jesus het op water aan geloop gekom na die skuid toe, en die Woord van God sal nie Leuns verspry nie.

Anoniem ·

Volhard wat die woord vertel. Die wereld gaan nie meer die waarheid aan vaar nie.
Die einde is naby. Wees gereed wanneer JESUS kom.
Amen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.