ToekomsVenster: Jesus loop op die see

wind-van-voor

Foto: Pezibear/Pixabay.com

Net daarna het Jesus sy dissipels aangesê om in die skuit te klim en solank vooruit te gaan na die oorkant, na Betsaida toe, terwyl Hy nog eers die mense huis toe stuur. Nadat Hy hulle laat gaan het, het Hy die berg op gegaan om te bid.

Toe dit aand word, was die skuit al ver weg die see in en Jesus alleen op die strand. Hy het gesien hulle roei swaar, want die wind was teen hulle. Teen dagbreek die volgende môre het Hy op die see na hulle toe aangeloop gekom, en Hy wou langs hulle verbygaan. Toe hulle Hom op die see sien loop, het hulle gedink dit is ʼn spook. Hulle het hard geskreeu, want hulle het Hom almal gesien en groot geskrik. Maar Hy het dadelik met hulle gepraat en vir hulle gesê: “Wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie.”

Hy het toe by hulle in die skuit geklim, en die wind het gaan lê. Hulle was heeltemal uit die veld geslaan, want hulle het nie werklik verstaan wat die vermeerdering van die brood beteken nie; hulle kon dit nog nie begryp nie. – Matt. 14:22-33; Joh. 6:15-21

Die wind van voor. Ons ken die uitdrukking. Dit gaan nie maklik nie en verg baie inspanning. Kapenaars ken wind. As die Suidooster waai, moet ʼn mens vashou of jy word weggewaai.

Wanneer ʼn mens vir die Here werk, kan jy verwag dat die wind van voor jou spoed sal wil breek. Dit gaan moeite verg. Weerstand is ʼn kenmerk van koninkrykswerk. Die duiwel is ʼn mensemoordenaar en van die begin af weerstandig. Hy kry dit reg om baie mense moedeloos te laat opgee. Geen wonder dat die Hebreërskrywer ons juis maan om die oë op Jesus gevestig te hou nie – die begin en die voleinder van die geloof.

Daar is ook sprake van ʼn ander wind. Die wind van die Gees. As die duiwel soos die wind van voor is, kan ʼn mens seker sê dat die Heilige Gees die wind van agter is. Die geluid van ʼn geweldige rukwind en tonge van vuur het op Pinksterdag baie jare gelede die apostels bemagtig vir die groot taak wat voor hulle gelê het.

Gaan en maak dissipels van alle nasies. Leer en onderrig hulle. Ek is met julle.

Is jy ook windbewus, maar veel eerder van die wind van voor? Dank God vir die wind van voor. Jy doen iets reg. As daar geen weerstand kom nie, kan jy met reg vra of jy die Here reg hoor en inderdaad met sy werk besig is.

Hou op kla. Jesus kom na jou toe in die wind van agter en die wind van Bo. Jesus bring vrede en verlossing. Jesus spreek ʼn woord en die wind bedaar. Jesus het al die gesag en mag wat nodig is dat jy jou werk met oortuiging en oorgawe kan doen.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.