ToekomsVenster: Jesus maak ’n seun gesond

hoop-sonsopkoms

Foto: Pixabay.com

Toe hulle weer by die ander dissipels kom, sien hulle ‘n groot menigte mense daar rondom hulle en skrifgeleerdes wat met hulle redeneer. Die hele menigte was verras toe hulle Jesus skielik sien, en het nader gehardloop om Hom te verwelkom. Hy het vir die skrifgeleerdes gevra: “Waaroor redeneer julle met my dissipels?” Een van die mense het Hom geantwoord: “Meneer, ek het my seun na U toe gebring omdat hy van ‘n gees besete is wat hom stom maak. En elke keer as die gees hom gryp, gooi hy hom op die grond neer. Dan kry hy skuim om die mond en hy kners op sy tande, en sy spiere trek saam. Ek het u dissipels gevra om die gees uit te drywe, en hulle kon nie.” Jesus sê toe vir hulle: “Ongelowige geslag, hoe lank moet Ek nog by julle wees? Hoe lank moet Ek julle nog verdra? Bring hom hier na My toe.” Hulle het die seun na Hom toe gebring. Net toe die gees vir Jesus sien, het hy die seun geweldige stuiptrekkings laat kry. Hy het op die grond neergeslaan en rondgerol, met skuim om die mond. Jesus het vir die pa gevra: “Hoe lank is dit al dat dit hom oorkom?” “Van kleins af,” antwoord hy, “en baiekeer het die gees hom al in vuur en in water gegooi om hom dood te maak. As U tog miskien iets daaraan kan doen, kry ons jammer en help ons.” “ ‘As U iets kan doen,’ sê jy,” antwoord Jesus. “Vir die een wat glo, kan alles.” “Ek glo,” roep die seun se pa dadelik uit. “Help my in my ongeloof.” Nadat Jesus huis toe gegaan het, toe hulle alleen was, het sy dissipels Hom gevra: “Waarom kon ons die gees nie uitdrywe nie?” Hy het vir hulle gesê: “Hierdie goed kan met niks anders as met gebed uitgedrywe word nie.” – Markus 9:14-29

Mense staan en redeneer oor Jesus en sy aansprake. Opmerklik dat mense vandag nog oor Jesus redeneer. Sommige erken sy heerskappy en Goddelikheid. Ander bring bewyse dat Hy nie die Een kan wees nie.

Die pa bring sy seun na Jesus. “As U iets kan doen,” praat hy met Jesus, “kry ons tog jammer”. Jesus antwoord dat vir die een wat glo alles kan alles gedoen word.

Die pa wil so graag, maar sê toe dat sy geloof steeds tekort skiet. Diep binne bly die gevoel van twyfel en onsekerheid aan ons almal knaag. Jesus verwyt nie. Jesus sien die mense desperaatheid en moedeloosheid raak.

Dit moes ʼn vreesaanjaende gesig wees om hierdie seun te sien manifesteer. Die duiwel werk nie mooi met mense nie. Hy ontneem mense van hul menslikheid. Hy maak van hulle skuimende onrustige wesens. Van kleintyd af sukkel die pa met sy seun. Hoe dit gebeur het dat die duiwel so ʼn greep op die seun gekry het word nie gesê nie.

Die werklikheid egter van hierdie demoniese besetenheid speek grafies af voor die mense. As hy so ʼn aanval beleef werp hy homself selfs in die vuur. By hoeveel adresse het die pa nie al om hulp aangeklop nie. Hy is al soveel keer teleurgestel in sy verwagting. Hy wil nie te veel hoop op Jesus vestig nie. Versigtig praat hy “as U kan”.

Aanvanklik bring die pa die seun na die dissipels toe maar hulle kon nie hond haaraf maak nie. Later vra hulle waarom hulle die taak nie kon uitvoer nie. Jesus verduidelik dat hierdie tipe van besetenheid net met gebed uitgedryf kan word. Die dissipels is steeds ingeskryf in Jesus se dissipelskap program. Later sou hulle gesag ontvang om in die Naam van Jesus elke vorm van mag en heerskappy aan te spreek.

Die woorde “as U miskien iets daaraan kan doen” dring hulle aan my op. Jesus herhaal die woorde asof Hy vir ʼn oomblik geamuseerd daaroor nadink. “As Ek iets daaraan kan doen”.

Ons beleef traumatiese tye die wêreld deur, ook in Suid-Afrika. Die lieflikheid van ons omgewing, die nuwe motors op ons paaie, die toringgeboue en mooi kerke skep die waan van ʼn wêreld wat heerlik op koers is. Neffens die luuksheid en vertonerigheid egter lê die pyn van armoede, werkloosheid, die verkragting van vroue ten aanskoue van hul kinders, die wrede moorde op weerloses, die dwelmafhanklikheid en gesinsverbrokkeling, bendegeweld en korrupsie.

Meeste mense wil nie daarvan weet nie. Dis ontstellend en maak ʼn appél op ons waarby ons nie kan en wil uitkom nie.

Tog is daar honderde voorbidders wat daagliks by God intree vir die redding van Suid-Afrika. “Kry ons jammer. As U miskien enige iets aan ons situasie kan doen” prewel hulle bykans onhoorbaar waar hulle afsonder in gebedtoewyding.

Jesus hoor luister en gee om. As Hy in radikale heerlikheid toetree tot die gebrokenheid van ons dag, verander dinge. Ons soek, smeek en roep na herlewing: “Here, as U miskien iets vir Suid Afrika kan doen”.

“Ek kan,” sê Hy.

Vir die een wat glo kán alles.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Von ·

Dankie Here Jesus dat niks maar niks vir U my God onmoontlik is nie….kom my ongeloof tot hulp.Amen

Charlie ·

Here ons pleit vir die hele wêreld! Laat elke knie buig en elke mond getuig! U o Koning is Heer! Here ek dink hierdie wêreld is reg vir U. Amen

Delia ·

Wat hier beskryf word is die tipiese kliniese beeld van n epileptiese aanval. Ongelukkig tot so naby as die jate 50’s is psigiatriese siektes gesien as iets wat die duiwel veroorsaak . Gelukkig het navorsing en medikasie n klomp mense n baie beter lewenskwaliteit gebring. En ja ek glo ook dat God mense van epileptiese aanvalle kan genees. Want by ons God is alles moontlik.
En ongelukkig veroorsaak Satan dat baie mense verkeerde keuses uitoefen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.