ToekomsVenster: Jesus pas sy skape op

skape_lammers_veld_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: Pixabay.com

Hebr. 13:20-21 – God wat vrede gee, het ons Here Jesus wat deur die bloed van die ewige verbond die groot Herder van sy kudde is, uit die dood teruggebring. Mag dié God julle toerus met alles wat goed is, sodat julle sy wil kan doen. Mag Hy deur Jesus Christus in ons tot stand bring wat vir Hom aanneemlik is. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen.

Groot Bybelse waarhede in hierdie gebed wat die skrywer met die lesers deel. Ek wil graag stilstaan by die eerste aangrypende frase. Eintlik probeer stilstaan omdat die grootsheid van God se genadewerk in Jesus ons Here, onbegryplik, wonderlik en aangrypend is.

Jesus is die groot Herder van die kudde word geskryf. Die beeld van ʼn herder en sy kudde is nie onbekend aan die Bybel nie. Dink maar net aan die baie bekende Ps. 23. “Die Here is my Herder” . Dink aan Joh. 10  “Jesus is die deur vir die skape”. Soos ʼn goeie en sorgsame Herder dra God in Christus Jesus die skape en lammers aan sy bors. Hy laat die 99 skape om die een wat weg geraak het te gaan soek. Hy bewaak die ingang na die skape omdat daar ander rolspelers opdaag wat sinistere bedoelings met die skape het.

In die ou Testament word Israel, die geestelikes en leiers van die volk aangetree omdat hulle die skape nie na behore opgepas het nie. Na Petrus se verloëning van Jesus word hy in sy amp herstel wanneer die sorg van die kudde aan hom toevertrou word. So kan ʼn mens voortgaan.

Jesus is inderdaad die goeie Herder wat omgee vir die skape.

Daar is volgens Joh. 17:20  ook skape wat deel is van ander kuddes. Ons moet sensitief wees vir wat en wie bymekaar hoort.

Die “verbond” is ʼn moeiliker begrip en mens sukkel somtyds om dit te verwoord en te verstaan. Daar is sprake van ʼn ou en nuwe verbond. Israel is God se verbondsvolk. Daar is iets soos verbondverbreking en verbondsvernuwing. Daar is sprake van meer as een verbond.

Die verbond waarna hier verwys word is die genade verbond. Die inhoud daarvan is lewe deur die bloed van die Seun.

Soos die verbond in die ou Testament voordurend herdenk, gevier, vernuwe en herstel is deur die bloed van offerdiere is Jesus die nuwe Testamentiese Lam van God wat sy lewe afgelê het, weereens vir die skape.

Sy verbond, ʼn ander woord belofte, testament en ooreenkoms of afspraak, word nooit opgehef nie.

Wat Hy begin het maak Hy klaar. Die basis van die afspraak is genade, die toesegging is gratis, sonder verdienste en word deur God eerder as ons getrouheid in stand gehou.

Mag jy vandag ervaar hoe die Herder jou versorg en beskerm.

ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.