ToekomsVenster: Jesus roep sy eerste dissipels

blom-liefde-hande-ring

Foto: René Roux.

Eendag toe Jesus langs die See van Galilea loop, het Hy vir Simon en Simon se broer Andreas gesien waar hulle besig was om werpnette in die see uit te gooi. Hulle was vissers van beroep. Hy het toe vir hulle gesê: “Kom hier! Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak.” Onmiddellik het hulle die nette gelos en Hom gevolg. Toe Hy ʼn entjie verder gaan, het Hy vir Jakobus, seun van Sebedeus, en sy broer Johannes gesien waar hulle in die skuit besig was om hulle nette reg te maak, en dadelik het Hy hulle geroep. Hulle het hulle pa, Sebedeus, net so saam met die loonarbeiders in die skuit gelaat en saam met Jesus gegaan. – Markus 1:16-19

Dat Jesus mense wat in die oë van die samelewing van destyds waarskynlik nie as die skerpste potlode in die pakkie gereken is nie roep om volgelinge van Hom te wees is reeds bekend. Vissermanne was eenvoudige mense, maar vissermanne was (is) mense. Wonder waar plaas ons die klem wanneer ons na mense kyk? Is daar ʼn stukkie meerderwaardigheid te bespeur in die manier waarop ons ander beskrywe, goed bedoel maar tog met ʼn onderskrif wat kwetsend is en seermaak?

Wanneer Petrus en Johannes voor die geestelikes van die dag moet verskyn oor die genesing van die lam man by die tempelpoort is hulle uiters verbaas oor hul vrymoedigheid. Hulle is eenvoudige vissers.

“Nie mense met die opleiding, finesse, en so meer wat ons darem het nie … Dis sout-van-die-aarde-mense. Doodgewone mense.”

Miskien moet ons ʼn slag  luister na die onuitgesproke woorde, die woorde “agter” die woorde wanneer ons ander mense, veral mense van ander kulture, beskryf.

Die teks verklik die dringendheid van Jesus se oproep en die onmiddellikheid van die geroepenes se reaksie. Jesus sê nie: “Wil jy dit nie oorweeg om by my beweging aan te sluit nie? Ek wil jou ʼn aanbod maak. Stuur jou CV en kom vir ʼn onderhoud, dan oorweeg Ek jou geskiktheid vir die posisie.”

Dis eenvoudig, op die man af, daar kan geen twyfel wees wat Jesus se bedoeling is nie: “Volg My.”

Die manne wat geroep word, redeneer nie, oorweeg nie hul opsies nie, weeg die voor- en nadele van so ʼn stap nie eers versigtig nie, maar onderskei in die oproep die dringendheid en integriteit van die oproep. Dadelik!

God roep mense vandag nog om met Hom saam te loop. Hy wil hulle inskakel by die koms van sy Koninkryk. Sy woorde “Volg my” kom met dringendheid na jou vandag. Hoe antwoord jy Hom?

Lees weer die teks. Luister fyn. Voel die seebries op jou lyf. Sien die vissermanne besig om lewensonderhoud te verdien. Sien Jesus nader kom. Tussen al die mense wat op die strand bedrywig is, stap Hy na Petrus en Andreas toe. Dis vreemd. Hy stap vandag, hier en nou na jou toe. Hoor jy sy woorde – “volg my”?

Wat maak jy daarvan en daarmee?

Doen slegs U wil, Heer

U wil met my

U die pottebakker

Ek die klei

Vorm my en maak my

Net soos U wil

Op U slegs wag ek

Nederig en stil

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Ansa ·

Baie dankie vir goeie boodskap ons moet Jesus volg ja dit is die beste om Hom te volg sal n mens nooit ooit spyt wees nie,want dan weet jy jou burgerskap is in die Hemel by Hom

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.