ToekomsVenster: Jesus se dood word beplan

gebed-hande-kerkbankie-deur-himsan

Foto: Himsan/Pixabay.com

Twee dae later sou dit die Paasfees en die fees van die ongesuurde brood wees. Die priesterhoofde en die skrifgeleerdes was op soek na ‘n plan om Jesus op ‘n slinkse manier gevange te neem en dood te maak. Hulle het gesê: “Nie op die fees nie, sodat daar nie miskien oproer onder die volk kom nie.” – Markus 14:1-2

Een van die ontstellende dinge vir my in hierdie reis deur Markus is hoe verblind, bevooroordeeld, foutvinderig en jaloers die geestelike leiers van die dag was. Hulle was tog veronderstel om die skrifte te ken en te interpreteer. Hulle was veronderstel om ʼn lewende verwagting te hê dat die ou Testamentiese profesieë waarvan daar talle is iewers vervul sou word. Toe Jesus verskyn het sou ʼn mens verwag dat hulle die punte bymekaar kon bring en die aangewese afleiding maak.

Maar die teleurstelling is groot. Dit was juis die geestelike leierskap wat nie net vir hulself nie maar ook die volk ʼn hindernis in die weg gelê het. Wat was hul motivering anders as naakte jaloesie en bedreiging. Bang dat Jesus (en dit het in elk geval gebeur omdat Hy leer soos iemand wat gesag het en nie soos die Skrifgeleerdes nie) meer respek en lojaliteit sou afdwing as hulle.

Waarom het die massas na Jesus gestroom? Hulle het in Hom iets van hul diepste versugting en verlange ontdek. Hier was ʼn mens met wie hulle kon identifiseer, nie vertonerig en opgesmuk nie. Hy praat ʼn taal wat mense kan verstaan en gee regtig om vir die mense. Sy nederige optrede het hulle aangespreek, nie vanuit die hoogte en hoogmoedig nie maar eerlik en eenvoudig. Nie goed voorskryf wat hyself nie doen nie maar hulle kon Hom volg en sy optrede emuleer.

Die kerk het ʼn belangrike taak op aarde. Die kerk is ʼn gestalte van God se Koninkryk en die vernaamste instrument waardeur God sy wil laat geskied.
Die kerk is ons en ons is die kerk. Jesus is die Hoof van die kerk.

Ongelukkig is die kerk meermale eerder ʼn remskoen as ʼn aansporing om Christus te bely. Partyskappe en onderlinge jaloesie en verdeeldheid en onenigheid was van die begin af deel van die kerk se hartseer verhaal.

1 Kor.3:1-4 – Broers, ek kon met julle nie praat soos met mense wat hulle deur die Gees van God laat lei nie; ek moes praat soos met wêreldse mense, soos met kindertjies in die geloof in Christus. Ek het julle met melk gevoed, nie met vaste kos nie, want julle kon dit nog nie verteer nie. En julle kan dit ook nou nog nie verteer nie, want julle is nog wêreldse mense. Daar kom jaloesie en twis onder julle voor. Is dit nie omdat julle nog wêrelds is en julle wêrelds gedra nie? As een van julle sê: “Ek is vir Paulus,” en ‘n ander: “Ek is vir Apollos,” is julle dan nie nog wêrelds nie?

Mag die Here die kerk suiwer van alle selfsug.

Hoe lyk dit in en met jul gemeente?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.