ToekomsVenster: Jesus se liefde vir jouself

liefde-hartjies-liggies-dekor

Foto:
Freestocks.org/Unsplash.com

Jesus antwoord hom: “ ‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand. Dit is die grootste en die eerste gebod. En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ – Matteus 22:37-39

Die teks sê “jy moet ander liefhê soos jouself”.

As jy nie vir jouself lief is nie sal jou liefde vir ander gebrekkig wees.

As jy krities is teenoor jouself sal jy waarskynlik krities wees teenoor ander.

Liefde is ʼn woord wat in ons post-moderne wêreld min van sy oorspronklike betekenis behou het.

Liefde wat in en deur die wêreld bewys word, is dikwels liefde met ʼn agenda. “Ek doen vir jou sodat jy later vir my kan doen”. Sou dit nie gebeur nie skort ons die liefde op en verketter die ander.

Die teks, “jy moet jou naaste liefhê soos jouself”, word nuwe Testamentiese herinterpreteer wanneer Jesus ons ʼn nuwe gebod gee.

Die nuwe gebod sê dat ons mekaar moet liefhê soos Hy ons liefhet. Jesus se liefde vir ons het ʼn ander kwaliteit, ʼn verhewe, Goddelike kwaliteit.

Dit is onvoorwaardelik, sonder voorbehoud, empaties en lankmoedig. Dit is geduldig en sagmoedig. Dit oordeel en veroordeel nie maar trek sagkens nader. Dit wys nie vinger van verwyte nie maar wink ons nader.

Dat ons onsself moet liefhê soos Jesus ons liefhet is tog duidelik. Waarom gaan ons dan voort om ons eie grootste vyand te wees? Kan ons daarmee klaarmaak? Kan ons van die verdediging en oorlewingsmeganismes ontslae raak en die pad na volwasse wording begin loop?

Toegegee, sommige dae is ons ʼn beter weergawe van die ware self as ander. Sommige dae is ons vir die ware self dalk selfs ʼn verleentheid. Ons skuif rond tussen gesond, middelmatig en ongesond, maar omdat ons ernstig is, herwin ons ekwilibrium en herstel ons gaandeweg weer.

Ek het onlangs verjaar. Ek kom ʼn lang pad en mense sou na my as ʼn senior burger kon verwys. Die eerste keer in my lewe het ek myself geluk gewens met my verjaardag. Ons was deur dik en dun daar vir mekaar. Ons het mekaar se nukke verdra. Dit was ʼn verbysterende ervaring.

Waar staan jy met jouself?

Begin vandag om jou eie beste vriend, vennoot, kameraad, kollega, vertroueling en reisgenoot te wees, en geniet die reis saam.

Ek gee julle ‘n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. – Johannes 13:34

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Chantel ·

Hmm, wie is my naaste??? SLEGS my gesin en familie. Die onbekende man op straat is verseker nie my naaste nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.