ToekomsVenster: Jesus seën die kindertjies

kinders-dogtertjies-lees-boek

Foto: Ben White/Unsplash.com

Die mense het kindertjies na Jesus toe gebring dat Hy hulle moet aanraak. Sy dissipels het met die mense daaroor geraas. Maar toe Jesus dit sien, was Hy verontwaardig en het Hy vir hulle gesê: “Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle. Dit verseker Ek julle: Wie die koninkryk van God nie soos ‘n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.” Hy het sy arms om die kindertjies gesit, hulle die hande opgelê en hulle geseën. – Markus 10:13-16

Hierdie is ʼn kosbare gedeelte. Jesus is baie besig. Die dissipels wil hom teen wil en dank beskerm.

Dis pastoraat, prediking, begeleiding, mentorskap en persoonlike optredes ver en wyd. Hy is moeg en het nie tyd vir beuselagtighede nie. Hulle moet boonop nie ʼn appél maak op die tyd van die besige en belangrike werk van Jesus nie. Daarom raas die dissipels met die mammas en kinders wat so ontydig vir aandag aanmeld.

Kinders moet gesien word en nie gehoor word nie. Ek het so groot geword. Ek dink nie die bedoeling van my ouers was om my en my broers en suster te na te kom nie maar ʼn kind moes sy plek ken. In die oosterse wêreld is hierdie reël geïntensiveer. Kinders was onbelangrik en op die agtergrond.

Jesus laat Hom die optrede van die dissipels, hoe goed ook al bedoel, nie geval nie. Die mammas en kinders moet naderstaan. Ai, die gesig toe Jesus daardie kinders omarm en vashou.

Ek begeer ook om so vasgehou te word, ek is seker jy ook. Na alles, ons is ewe broos en aangewese op sy aandag en omgee.

Jesus is nooit maar nooit te besig vir mense nie. Vertel Hom jou diepste hartsgeheime.

As ek sien hoe onopgesmuk ons kleinkinders hul gebedjies voordra dan word ek skaam dat ek somtyds voel dat ek Jesus darem met my mooi woorde en netjiese sinsstruktuur, ja, my sg. intelligensie en geestelikheid moet en kan beindruk.

Jesus sê leef onopgesmuk en braaf soos kinders.

“Op my stoeltjie sit ek nou
Met my handjies saamgevou
Here Jesus hoor my dank
Vir my voedsel en my drank.
Amen”

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.