ToekomsVenster: Jesus stuur die twaalf uit

voetspore-strand-golf

Foto: Elias Domsch/Unsplash.com

Jesus het die twaalf nader geroep en hulle twee-twee begin uitstuur. Hy het aan hulle mag oor onrein geeste gegee. Verder het Hy hulle bevel gegee om niks vir die pad saam te vat nie, net ‘n kierie — geen kos, geen reissak, geen geld in die beursie nie. Hulle moes wel skoene aantrek maar nie nog ‘n kledingstuk saamvat nie. – Lees Markus 6:7-13

Iemand het gesê daar is nie plek vir “Lone Rangers” in God se werk nie. Die teks vertel hoedat Jesus sy dissipels in pare uitgestuur het. Mens sou kon redeneer dat Jesus soveel meer sou kon vermag as hy sy volgelinge een-een uitgestuur het. Dan kon by wyse van spreke 12 plekke in stede van ses bereik word.

Die wyse waarop Jesus sy dissipels uitstuur wys op ons aangewesenheid op en by mekaar. Geen enkele persoon besit al die insig, wysheid en onderskeiding wat nodig is nie. Twee is ʼn metafoor vir meer as een, nie by hulself nie maar in pare of groepe.

Ek dink nie hierdie voorbeeld is noodwendig die wet van Mede en Perse nie maar dit wil ʼn baie belangrike beginsel onderstreep. Ons het mekaar nodig. Twee kan mekaar aflos, hulle kan vir mekaar bid, hulle kan mekaar bemoedig en ondersteun, hulle kan namens mekaar getuienis lewer indien hul woord in twyfel getrek word. Twee kan op mekaar inspeel, mekaar help en aanvul en selfs by geleentheid vermaan en teregwys.

Ons het mekaar nodig.

Jesus het twaalf mense rondom Hom gehad. Weliswaar het Jesus nie ʼn behoefte gehad aan enige van bostaande voordele nie. Uiteraard weet Hy alles en kan Hy alles doen. Tog het Hy Homself dupliseer in sy volgelinge. Om jou kennis en vaardigheid te dupliseer is ook ʼn belangrike beginsel. In die praktyk kan ʼn mentor en mentee saam uitreik en so vind groei en volwassenheid plaas.

Waarvoor roep die Here jou? Moenie daaraan vasklou asof jou eer op die spel is nie. Ons is burgers van God se Ryk en nie ons eie nie. Ons soek die eer van God en nie ons eie nie. Deon Loots in sy dissipelskapreeks dui juis op die gevaar daarvan dat God se kinders eerder ʼn “laat mý koninkryk kom, mý wil geskied en mý naam verheerlik word” ingesteldheid mag ontwikkel.

God deel sy eer met niemand nie. Hy is ʼn jaloerse God en met reg ook. Hy weet dat ons eer en erkenning dikwels eerder gebruik om ander af te knou en onsself te verhef.

Ons kan God met erkenning vertrou. Hy bly nederig in sy diepste wese. Hy is nooit aanmatigend en dwingend nie.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

LM ·

Vandag biddag vir vroue gewees. Rerig gedink daar sou n boodskap gewees het oor vroue. Nie ondankbaar vir die boodskap. Se net……… ??

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.