ToekomsVenster: Jesus stuur die twaalf uit

 hand-gee-uitreik-hulp

Foto: Milivanily/Pixabay.com

Jesus het die twaalf nader geroep en hulle twee-twee begin uitstuur. Hy het aan hulle mag oor onrein geeste gegee. Verder het Hy hulle bevel gegee om niks vir die pad saam te vat nie, net ʼn kierie – geen kos, geen reissak, geen geld in die beursie nie. Hulle moes wel skoene aantrek maar nie nog ʼn kledingstuk saamvat nie. Daarby het Hy vir hulle gesê: “Waar julle in ʼn plek kom en in ‘n huis ontvang word, bly daar totdat julle van die plek af weggaan. En as ʼn plek julle nie wil ontvang en die mense nie na julle luister nie, gaan dan daarvandaan weg en skud selfs die stof onderaan julle voete af as aanklag teen hulle.” Hulle het toe gaan verkondig dat die mense hulle moet bekeer. Daarby het hulle baie bose geeste uitgedrywe en baie siekes met olie gesalf en gesond gemaak. – Markus 6:7-12

Iemand het gesê daar is nie plek vir “lone rangers” in God se werk nie.

Die teks vertel hoedat Jesus sy dissipels in pare uitgestuur het. Mens sou kon redeneer dat Jesus soveel meer sou kon vermag as hy sy volgelinge een-een uitgestuur het. Dan kon by wyse van spreke 12 plekke in stede van ses bereik word.

Die wyse waarop Jesus sy dissipels uitstuur wys op ons aangewesenheid op en by mekaar. Geen enkele persoon besit al die insig, wysheid en onderskeiding wat nodig is nie. Twee is ʼn metafoor vir meer as een, nie by hulself nie maar in pare of groepe.

Ek dink nie hierdie voorbeeld is noodwendig die wet van Mede en Perse nie maar dit wil ʼn baie belangrike beginsel onderstreep. Ons het mekaar nodig.

Twee-twee kan die groep mekaar aflos, hulle kan vir mekaar bid, hulle kan mekaar bemoedig en ondersteun, hulle kan namens mekaar getuienis lewer indien hul woord in twyfel getrek word.

Twee-twee kan hulle op mekaar inspeel, mekaar help en aanvul en selfs by geleentheid vermaan en teregwys.

Ons het mekaar nodig.

Jesus het twaalf mense rondom Hom gehad. Weliswaar het Jesus nie ʼn behoefte gehad aan enige van bostaande voordele nie. Uiteraard weet Hy alles en kan Hy alles doen. Tog omring Hy Homself met sy dissipels.

Om jou kennis en vaardigheid te dupliseer is ook ʼn belangrike beginsel. In die praktyk kan ʼn mentor en mentee saam uitreik en so vind groei en volwassenheid plaas.

Waarvoor roep die Here jou? Moenie daaraan vasklou asof jou eer op die spel is nie. Ons is burgers van God se ryk en nie ons eie nie. Ons soek die eer van God en nie ons eie nie.

Deon Loots in sy dissipelskapreeks dui juis op die gevaar daarvan dat God se kinders eerder ʼn “laat my koninkryk kom, my wil geskied en my naam verheerlik word”- ingesteldheid mag ontwikkel.

God deel sy eer met niemand nie. Hy is ʼn “jaloerse” God en met reg ook (Eksodus 34:14).

Hy weet dat ons eer en erkenning dikwels eerder gebruik om ander af te knou en onsself te verhef.

Ons kan God met erkenning vertrou.

Hy bly nederig in sy diepste wese.

Hy is nooit aanmatigend en dwingend nie.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Eish ·

Goed om daarop te let dat hy hul mag gegee het oor onrein geeste. Elders toe hy die 70 dissipels uit stuur het, staan daar dat Hy hul ook mag gegee het om siekes gesond te maak. Ons moet maar baie versigtig wees vir die biddende genesers. Mense reis wyd en ver om die die dienste by te woon, verniet. Indien jy nie die gawe ontvang het nie, vergeet dit, dis n geldmaakstorie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.