ToekomsVenster: Jesus verklaar die gelykenis van die saaier

saailinge-plantjies

Foto: Joshua Lanzarini/Unsplash.com

“Die saaier saai die woord. Daar is mense by wie daar soos op ‘n pad gesaai word: sodra hulle die woord hoor, kom die Satan en vat die woord weg wat in hulle gesaai is. Daar is mense by wie daar soos op klipbanke gesaai word: sodra hulle die woord hoor, neem hulle dit met blydskap aan. Hulle laat dit egter nie in hulle wortel skiet nie en hou nie lank uit nie. As hulle daarna ter wille van die woord verdruk of vervolg word, word hulle gou afvallig. Daar is mense by wie daar soos tussen die onkruid gesaai word. Dit is hulle wat die woord hoor, maar die sorge van die lewe en die verleiding van rykdom en die begeertes na allerhande ander dinge kom op en verstik die woord, en dit bly sonder vrug. Dan is daar die mense by wie daar soos op goeie grond gesaai is, wat die woord hoor en aanvaar en vrug voortbring, party dertig-, party sestig- en party honderdvoudig.” – Lees Markus 4:14-20

Ek het nou maar een maal net nie groen vingers nie. Julle weet mos daar is mense wat ʼn “stok” in die grond druk en dit groei teen alle verwagting in welig en vrolik. Hul groente en blomtuine lyk verruklik en ʼn mens beny hulle die gawe wat hulle ontvang het.

Ek saai met verwagting maar die saadjies kom soos mieliepitte op, letterlik hier en daar. Gelukkig hoef ʼn mens nie alles te kan doen nie. Feit van die saak is dat die landbouer darem baie teleurgesteld is as hy soveel moeite gedoen het om die saad te saai en die opbrengs is so teleurstellend.
Miskien kan jy met my identifiseer.

Jesus, alhoewel Hy ʼn gelykenis vertel het eerstehandse ervaring van hoe dit in die bedieningspraktyk gaan. Die mense wat volhard en vrug dra is klein in vergelyking met die geheel. Tog het God altyd rekening gehou met die oorblyfsel. Daar was altyd ʼn klompie mense wat die roeping waardig was en nie sondermeer moed en spoed verloor het nie.

Is Jesus opgewonde of teleurgesteld met die effek wat die saad in jou lewe gehad het of het? Soos die seun in die gelykenis van die wingerd kan jy spyt kry en die roeping opneem.

Opmerklik vir my in hierdie gedeelte is dat elkeen van die vier kategorieë mense se beskrywing met dieselfde woorde begin “daar is mense wat die Woord hoor”. Almal hoor die Woord, die verskil kom by die uitwerking wat daardie Woord by hulle het.

Die eerste groep word deur die duiwel beroof van die Woord wat in hulle gesaai is. Die tweede groep aanvaar die Woord met blydskap maar met die geringste weerstand gooi hulle handdoek in. Die derde groep swig onder die aanloklikheid van die heersende wêreld kultuur. Sorge onmagtig hulle en hulle kom nooit daarby uit om God te vertrou nie. Dis net een groep wat vrug dra, elkeen in ooreenstemming met wat aan hom of haar toevertrou is.

The proof is in the eating” word gesê. Jakobus is daaroor duidelik. Geloof sonder werke is dood. Jy sê dat die Woord vrug dra in jou lewe.
Waarin bestaan dit konkreet? Ons word nie op grond van werke geregverdig nie maar werke vloei voort uit ons lewens as ʼn vergestalting van dankbaarheid. “I once was blind but now I see”.

Is daar vrug in jou lewe?

Galasiërs 5:22 – Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid

Lukas 3:8 en 9 – Dra liewer vrugte wat bewys dat julle bekeer is. En moenie by julleself sê: ‘Ons het Abraham as voorvader’ nie, want dit sê ek vir julle: God kan uit hierdie klippe kinders vir Abraham verwek. Die byl lê al klaar teen die wortel van die bome. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.

Volgens Jesus is hierdie gelykenis die 101 van die geloofslewe. Watter blywende effek het die Woord in jou lewe?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.