ToekomsVenster: Jesus verskyn na sy opstanding

vrou-lees-boek

Foto: Ben White/Unsplash.com

Ná Jesus se opstanding vroeg die Sondagmôre, het Hy heel eerste aan Maria Magdalena verskyn, uit wie Hy vantevore sewe bose geeste uitgedrywe het. Sy het dit vir sy dissipels gaan vertel wat oor Hom getreur en gehuil het. Alhoewel hulle by haar gehoor het dat Hy lewe en dat sy Hom gesien het, het hulle haar tog nie geglo nie. Daarna het Jesus met ‘n ander voorkoms aan twee van hulle verskyn terwyl hulle op pad was na die platteland toe. Hulle het dit vir die ander dissipels gaan vertel, maar dié het selfs vir húlle ook nie geglo nie. Later het Jesus aan die elftal self verskyn terwyl hulle aan tafel was. Hy het hulle verwyt oor hulle ongeloof en hardheid van hart omdat hulle dié wat Hom ná sy opstanding gesien het, nie geglo het nie. Hy het vir hulle gesê: “Gaan uit, die hele wêreld in, en verkondig die evangelie aan die hele mensdom. Wie tot geloof gekom het en gedoop is, sal gered word; wie nie glo nie, sal veroordeel word. Die volgende wondertekens sal voorkom by dié wat glo: in my Naam sal hulle bose geeste uitdrywe; in ander tale sal hulle praat; met hulle hande sal hulle slange optel, en as hulle iets drink wat dodelik giftig is, sal dit hulle geen kwaad doen nie; hulle sal siekes die hande oplê, en dié sal gesond word.” Nadat die Here Jesus dit vir hulle gesê het, is Hy in die hemel opgeneem en het Hy aan die regterhand van God gaan sit. Hulle het toe die evangelie oral gaan verkondig, en die Here het met hulle saamgewerk en hulle prediking bekragtig deur die wondertekens wat daarop gevolg het. – Markus 16:9-20

En so eindig die Markus evangelie met Jesus se verskynings aan verskeie mense. Dit is betekenisvol dat Jesus eerste aan Maria Magdalena, ’n vrou en boonop iemand uit wie Jesus sewe duiwels gedryf het, verskyn. Dit is sy wat die eerste getuie van die opstanding word alhoewel die dissipels haar nie glo nie.

Daarmee het Jesus alle vooroordele en opskortinge wat deur die eeue vir vroue gegeld het, opgeskort.

In ons dag is daar steeds gapings in die hantering van vroue as gelykwaardige vennote met manne in die samelewing. Vroue word in baie gevalle as minderwaardig beskou en selfs so behandel. In sommige gemeenskappe is vroue niks meer as gebruiksartikels nie. In sommige Oosterse gelowe is die wyse waarop vroue hulself moet verbloem hartseer en teleurstellend. Die huishoudelike take van kinders grootmaak en kos kook word in baie gevalle vir hulle reserveer. Dit is ’n miskenning van die belangrike rol wat God aan die vrou as eweknie en helper van Adam gegee het. Die opdrag om te heers te  regeer kom weliswaar na beide. Hulle hunker na mekaar en stel hulself tot beskikking van God om deur Hom gebruik te word.

Die vooroordeel teenoor vroue word grafies demonstreer wanneer die owerspelige vrou voor die Joodse raad gedaag word, gereed om haar dood te gooi. Die man wat die sondige daad met haar gepleeg het, is afwesig en klaarblyklik verskoon. Tamar word wreed verkrag en Sarah stuur vir Hagar die woestyn in om saam met haar seun om te kom. So is daar talle voorbeelde in die Bybel wat getuig van hierdie bevooroordeelde beeld van die vrou. Dit is opmerklik dat Bybelskrywers die vrou as verleidster en oortreder voorstel maar dat manne skotvry daarvan afkom.

Gesofistikeerde mans knou hul vrouens tuis af en die voorkoms van geweld teen vroue is onrusbarend en neem selfs toe. Die Here maan manne oor die wyse waarop hulle met hul vroue saamwoon:

Maleagi 2:14 – en julle vra: “Waarom dan nie?” Dit is omdat die Here weet wat gebeur het tussen jou en die vrou met wie jy van jou jeug af getroud is: jy was ontrou aan haar, ontrou aan jou eie vrou, die vrou aan wie jy plegtig trou belowe het.

Kom ons gee aan die vroue in ons samelewing leef die eer en erkenning wat hulle toekom ongeag van waar ons hulle raak.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jacques die Goodwoodianer ·

Dit is ñ mooi en ware boodskap. Ons mans is gereeld skuldig daaraan dat ons, onwetend, ons vrouens minag. ñ Vrou is baie sterk, geestelik en emosioneel. Wat ñ vrou deurgaan en verower in die lewe kan ñ man maar van droom.

Alle respek aan vroue. Ons kan baie by hulle leer. Ek leer by myne so baie. Die dinge wat sy vir my en ons kind doen kan nie in ñ enkele sin opgesom word nie.

Lena Jonk ·

Jacques, dis darem pragtig en waar wat jy hier se. Ek ken jou nie maar wil jou n pluimpie gee, ek dink jy is n ware Heer en n baie goeie vader vir jou kinders. Baie dankie dat jy opstaan vir vroue.

Kornel ·

Jacques, ware woorde. Hulle is die draers van ons kinders, moeders en so veel meer. Mans moet vroue meer respekteur en help. Hulle is in staat tot alles.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.