ToekomsVenster: Jesus voor Pilatus

Foto: Juanita Badenhorst.

Die môre vroeg het die priesterhoofde saam met die familiehoofde en die skrifgeleerdes dadelik as volle Joodse Raad ‘n vergadering gehou. Hulle het Jesus geboei en Hom toe weggebring en aan Pilatus uitgelewer. Pilatus het vir Hom gevra: “Is jy die koning van die Jode?” Jesus antwoord hom: “Dit is soos u sê.” Die priesterhoofde het Hom van baie dinge beskuldig. Pilatus het Hom toe verder ondervra. “Verweer jy jou glad nie?” het hy gevra. “Kyk waarvan beskuldig hulle jou alles.” Jesus het egter niks meer gesê nie, sodat Pilatus verbaas was. – Markus 15:1-5

Weereens is Jesus stil voor sy aanklaers behalwe wanneer Hy sy identiteit moet bevestig. Is jy die Koning van die Jode? “Inderdaad,” antwoord Jesus, “Ek is”.

Die priesterhoofde sukkel steeds om Jesus met oortuiging aan te kla en te veroordeel. Hulle het egter klaar besluit dat Hy die dood verdien. Pilatus moet hierdie besluit bevestig voordat dit uitgevoer kan word. Later sou Pilatus sy hande in oënskynlike onskuld was en verklaar dat hy aan die dood van hierdie man geen aandeel het nie.

Lukas 23:4 – Daarop sê Pilatus vir die priesterhoofde en die skare: “Ek vind geen skuld in hierdie man nie.”

Dié handeling kan hom egter nie verontskuldig nie, ongeag hoe hard hy ook al probeer het. Dit nadat sy vrou hom gewaarsku het dat sy die hele nag onrustig was en nie ʼn oog toegemaak het oor hierdie einste Jesus nie.

Matt 27:19-22 – Terwyl Pilatus op die regbank sit, het sy vrou vir hom ‘n boodskap gestuur: “Moet tog niks met daardie onskuldige man te doen hê nie, want ek het vannag ‘n vreeslike droom oor hom gehad.  Intussen het die priesterhoofde en die familiehoofde die mense oorgehaal om vir Barabbas vrylating te vra en vir Jesus die dood. Die goewerneur vra hulle toe: “Watter een van die twee wil julle hê moet ek vir julle loslaat?” “Barabbas!” antwoord hulle. Pilatus sê vir hulle: “Wat moet ek dan doen met Jesus wat Christus genoem word?” “Kruisig hom!” skreeu hulle almal.

Nou sal Pilatus Jesus oorlewer om gegesel te word. Die oordeel is gevel. Die mense het besluit. Die bloed kom op hulle en hulle kinders. Hulle aanvaar volle verantwoordelikheid vir die besluit wat hulle gemaak het. Hulle sal die saak deursien.

Die oënskynlike weerloosheid van Jesus tref ʼn mens. Dis nie asof sy dissipels naby is en die gesag van die Romeinse owerheid uitdaag nie. Dis nie asof die mense wat sommer nou die dag uitgeroep het “Hosanna vir die Seun van Dawid, geseënd is Hy wat in die Naam van die Here kom,” hul klere op die grond oopgegooi en palmtakke geswaai het, naby te sien is nie.

Dit val ʼn mens op, die kwesbare alleenheid van Jesus, nou geboei. Waarvoor sou hulle bang wees? Was Jesus ooit aggressief in sy optrede, het Hy al ooit publieke opstand teen die Romeinse gesag gepropageer, het Hy iewers ʼn opmars na die huis van die hoëpriester gelei om deeglike en verantwoordbare teologie te eis?

Jesus was nie bang om sterk bewoorde verklarings te maak nie maar van opstandigheid, gevaar en bedreiging was daar tog nie sprake nie. Hoe dan dat hy geboei, een man alleen omgewe van ʼn brutale massa, moet aanhoor hoedat Hy verdag gemaak word? Hoe desperaat kan die bose, die duiwel nie wees nie!

Pilatus kan nog probeer om homself te verontskuldig, ons kan nie.

Jesaja 53:5 – Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.