ToekomsVenster: Jesus waarsku teen die skrifgeleerdes

ligtoring

Foto: Jametlene Reskp/Unsplash.com

Terwyl Jesus die mense leer, het Hy gesê: “Pas op vir die skrifgeleerdes, wat daarvan hou om met swierige klere rond te stap en om op straat begroet te word, wat die voorste sitplekke in die sinagoges en die ereplekke by die feesmaaltye wil hê. Hulle palm die huise van die weduwees in en sê vir die skyn lang gebede op. Hulle sal baie swaar gestraf word.” – Markus 12:38-40

Skynchristene, so word van mense gepraat wat nie toegewyd aan God lewe nie.

Suid-Afrika se bevolking trek hul kruisies welig agter die naam Christin wanneer na hul geloofsverbintenis gevra word. In die praktyk egter blyk dit dat dit net kosmeties is. Immers, Suid-Afrika sou seker anders daaruit gesien het as die Here se kinders ernstig was om Hom in woord en daad te volg.

Skynchristene. Nie ʼn mooi woord nie en glad nie ʼn kompliment nie.

Die vraag is egter wie beoordeel wie se spiritualiteit? Watter maatstawe word aangelê en wie het jou daartoe toestemming gegee? Dit saak word verder gekompliseer wanneer dit ʼn aantal holrug geryde perdjies is wat as voorwaarde vir toewyding gelys word in stede van die kernwaarhede van God se ewige Woord.

Praat jy in tale is jy tops, indien nie is jy ver van verstaan van die werk van die Heilige Gees.

Is jy groot gedoop onderskei jou as ʼn vlees of ʼn Gees mens.

Hoe dink jy oor die wederkoms? Wag jy op die wegraping is jy een voor maar het jy ʼn ander oortuiging moet die Waarheid nog aan jou openbaar word.

Verstaan en ondersteun jy die klomp ou Testamentiese voorskrifte is jy voor in die koor, anders sing jy agterlangs.

Ai, hoe oppervlakkig en vleeslik darem.

Al hierdie dinge mag goed en waar wees binne ʼn bepaalde geloofsgemeenskap maar dit kan en mag nie die volmaakte offer van Jesus aanvul of komplimenteer nie. Dit kan ook nie as merker aangelê word om ander se geestelikheid te beoordeel nie.

Ek dag Jesus het gesê die merktekens van ware toewyding is liefde vir God en vir jou medemens.

Ek dag Jesus het gesê jou toewyding sal aan jou vrugte geken word.

Vergewe ons tog ons trots Here. Dis lelik en hoogmoedig.

Jesus het egter die volste reg om mense se toewyding te beoordeel. Hy is trouens ook die enigste wat die kwalifikasie daartoe het. Hy sien tot in die hart van mense. Niks is vir Hom verborge nie . Sy Gees delf diep in die bestaan van mense. Hy is die alwetende en alomteenwoordig. Hy sien waar ander mense nie kom nie.

Kom ons los die beoordeling en veroordeling vir Hom. Kom ons hou op om ander mense te beoordeel op grond van wat hulle doen en nie doen nie. Ek en jy gaan verbaas wees oor wie die hemel met ons gaan deel. Ons moet self daar kom. God soek sagte soekende en liefdevolle harte

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frank ·

Om te onderskei, ons MOET mekaar egter in LIEFDE vermaan sodat ons as broers en susters in Christus op die nou pad kan bly, wanneer ons afdwaal. Dis naasteliefde. Dit beteken glad nie om mekaar in die hel in te veroordeel of te verdoem nie.
Soos, jy sê, Christus en Christus alleen sit op die regterstoel.

Nie in eie krag ·

As ek dink hoe dit tans kan gaan, al die kinders van die Here bid saam “Here laat ons mekaar vind.” “Laat U wil geskied.” Die Onse Vader is waar elke kind moet begin – soos Jesus gesê het ons moet bid. My hartsbegeerte is dat daar ‘n massa van ons op ‘n plek saam sal kom waar ons dan op ons knieë saam uit een mond die Onse Vader bid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.