ToekomsVenster: Jesus wil ons kom herstel

(Foto: Ryan Riggins/Unsplash)

“Luister hier! ‘n Saaier het eendag gaan saai. Met die saai het ‘n deel van die saad op die pad geval, en die voëls het gekom en dit opgepik. ‘n Ander deel daarvan het op ‘n klipbank geval, waar daar nie baie grond was nie. Dit het gou opgekom, omdat die grond nie diep was nie. Maar toe die son warm word, is dit verskroei, en omdat dit nie wortel geskiet het nie, het dit verdroog. ‘n Ander deel het tussen die onkruid geval. Die onkruid het opgekom en dit laat verstik, en dit het nie saad geskiet nie. Die ander saad het in goeie grond geval, en dit het opgekom, gegroei en ‘n oes gelewer. Party het dertigvoudig gedra, ander sestig- en nog ander honderdvoudig.” – Mark. 4:3-8

Ons kuier hierdie week by die gelykenis van die saaier. Dit is opmerklik dat Jesus nie alleen die rasionaal om in gelykenisse te praat moes verdedig nie, maar die ooglopende van die gelykenis moes verduidelik. Hy doen dit ook met die dissipels wanneer hulle alleen is.

Die menigte het vertrek en Jesus gesels met ʼn uitgesoekte groep mense. Kan dit wees dat hulle die enigstes was wat gevra het wat die betekenis van die gelykenis is? Is dit omdat die menigte aan die slaap is en gehoor maar nie geluister het nie? Interessant dat die teks juis die mense oproep om na te dink, te luister, te onderskei wat die dieper liggende boodskap mag wees.

Die saaier het geen fout nie. Die saad het geen probleem nie. Die grond is duidelik problematies, want net een kwart het presteer. Die ander het of sommer van die begin af onaangeraak gebly, ander het ʼn vir ʼn oomblik ʼn bietjie opgewondenheid vertoon maar dit het nie lank gehou nie en ander is oorweldig deur die elemente.

Die probleem is die grond.

Toegepas, die probleem lê by die mense doodgewoon omdat die teks die grond en mense met mekaar gelykstel. Daar skort met die grond en dit behoort dit te skaam oor hul oënskynlike onwilligheid om met die goeie saad te handel.

Die grond is die probleem en die grond moet doodgewoon bekeer. Die grond moet hul skuld en aandadigheid erken en regkom.

Maar, wat as die grond nie weet dat daar ʼn probleem is nie? Wat as die grond so gewoond geraak het aan wie en wat dit is dat dit nie weet dat daar ʼn ander manier van wees moontlik is nie? Wat daarvan as die grond tot so ʼn mate moed verloor het dat die grond handdoek ingegooi het en opgegee het met beter wees? Wat daarvan as die grond al soveel kere sleggesê is dat dit moed opgegee het? Wat daarvan as die grond iewers langs die pad seergekry het en daarom die harde kors ontwikkel het omdat die grond redeneer die enigste manier om in hierdie wêreld te oorleef is deur hard te word?

Wat daarvan as die grond rehabiliteerbaar is?

Wat daarvan as die grond verlang na iets beter, na roepingsvervulling, na vryheid en vrykom?

Wat daarvan as die grond nie weet dat daar ʼn ander manier is nie, as die grond heimlik glo dit is hoe dit is en ek moet daarmee vrede maak?

Dit is opmerklik dat Jesus in sy vertelling van die gelykenis nie die grond slegsê nie. Indien enige iets probeer hy omstandigheidsgetuienis betrek. As ek dit reg het kom Jesus by ander geleenthede en sê: “Ek gaan weer met die grond ʼn pad probeer stap”.

Hy het nie die grond oorwin nie maar die bose.

Hy het afgehandel met vrees, verwerping, seerkry en minderwaardigheid.

Jesus wil die grond herstel.

Die grond sal egter net kan verander as die grond wakker word, uit sy slaap ontwaak en ʼn bereidwilligheid vertoon om te doen wat gedoen moet word.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.