ToekomsVenster: Jesus word begrawe

hart-liggies-strand

Foto: Fadi Xd/Unsplash.com

Dit was Vrydag, dit is die dag voor die Sabbatdag, en dit was al die middag laat. Josef van Arimatea, ‘n vooraanstaande lid van die Joodse Raad en iemand wat self ook uitgesien het na die koms van die koninkryk van God, kom toe daar aan. Hy het dit gewaag om na Pilatus toe te gaan en die liggaam van Jesus te vra. Pilatus was verbaas om te hoor dat Hy al dood is. Hy het die offisier laat roep en hom gevra of Jesus lankal gesterwe het.Toe hy van die offisier verneem dat dit wel so is, het hy die lyk vir Josef gegee. Josef het ‘n stuk linne gekoop, Jesus van die kruis gaan afhaal, Hom in die linne toegedraai en neergelê in ‘n graf wat in die rots uitgekap was. Hy het ‘n klip voor die ingang van die graf gerol. Maria Magdalena en Maria die moeder van Joses het gestaan en kyk waar Hy neergelê word. – Markus 15:42-47

Josef van Arimatea is ’n vooraanstaande lid van die Joodse raad. Hierdie invloedryke klomp geestelikes het die lewe vir Jesus onhoudbaar gemaak. Hulle was geestelik blind en so in beslag geneem deur jaloesie en afguns dat hulle die waarheid nie kon of wou onderskei nie.

Dis vreesaanjaend om daaraan te dink dat dit juis hulle was wat Jesus aan die Romeine uitgelewer het, gerugsteun deur valse en flagrante leuens en verdigsels.

Die kerk het deur die eeue ook episodes van geestelike blindheid beleef. Tog is daar in alle samelewingsverbande die uitsonderings.

In Elia se tyd was dit Obadja wat die profete van God versorg het waar hulle in grotte weggekruip het terwyl Batseba gepoog het om hulle om die lewe te bring. Dit is hy wat vir Elia aan Agab gaan voorstel sodat God se oomblik van waarheid kan aanbreek.

Nikodemus was eweneens ’n wetsgeleerde. Hy kom soekend in die nag na Jesus. “Meester wat moet ek doen om die ewige lewe te beërwe,” is sy belangrike vraag.

Netso word hier melding gemaak van nog ’n lid van die Joodse Raad wat in opregtheid uitgesien het na die koms van God se koninkryk. Hy het aan die ou Testamentiese profesieë vasgehou en soos ’n Simeon en Anna uitgesien na die dag dat die Messias koning sou verskyn.

Ons is in oordragtelike sin geneig om mense summier af te skryf vanweë hul verbintenis met ’n politieke party, kerklike groepering, gemeenskapsliggaam of kulturele vereniging net omdat ons lojaliteit nie daar lê nie. Ons moet baie versigtig wees dat ons die Heilige Gees nie deur ons veroordeling en gebrek aan kennis bedroef nie.

Ook in Elia se tyd was daar 7 000 profete wat nie die knie voor Baal gebuig het nie. Interessant dat ook Paulus ’n lid van die geestelikes was maar “opreg verkeerd” die eer van God wou herstel deur mense wat aan die weg verbonde is genadeloos te jag en te vervolg. Hy was later verantwoordelik vir die grootste deel van die nuwe Testament soos ons dit vandag ken.

Daarmee saam is God soewerein en kan Hy steeds die hardste hart verower.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ben ·

Dit was Isebel wat die profete wou doodmaak. Batseba was die vrou met wie David owerspel gepleeg het

Frank ·

Ha, ha. Wou nou net naarstiglik gaan oplees hoekom ek nie van die tweede Baseba weet nie…!!

Frank ·

Ai en nou wonder ek oor die 700 profete ook. Was dit nie 700 gelowiges nie? Gaan eers opsoek, nie dat dit veel verskil sal maak nie, want ons gelowiges is mos ook profeet, priester en koning!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.