ToekomsVenster: Jesus word gekruisig

kruis-gebed-berg-mis

Foto: Jacob Meyer/Unsplash.com

Die soldate het iemand wat daar verbygekom het, gekommandeer om Jesus se kruis te dra. Dit was Simon van Sirene, wat van buite die stad af gekom het, die pa van Aleksander en Rufus. Hulle bring Jesus toe na ‘n plek Golgota, wat Kopbeenplek beteken. Hulle wou vir Hom wyn gee met mirre daarin, maar Hy wou dit nie hê nie. Toe kruisig hulle Hom en verdeel sy klere onder mekaar deur te loot oor wat elkeen moet kry. Dit was nege-uur die môre toe hulle Hom gekruisig het. En die rede waarom Hy gekruisig is, was op ‘n bordjie aan die kruis geskrywe: “Die koning van die Jode.” Saam met Hom het hulle ook twee rowers gekruisig, een regs en een links van Hom. Die mense wat daar verbygeloop het Jesus gelaster. Hulle het die kop geskud en gesê: “Toe, jy wat die tempel afbreek en in drie dae weer opbou! Red jouself en kom van die kruis af.” Net so het die priesterhoofde en die skrifgeleerdes ook spottend vir mekaar gesê: “Ander het hy gered; homself kan hy nie red nie! Laat die Christus, die koning van Israel, nou van die kruis af kom, sodat ons dit kan sien en in hom glo!” Die twee wat saam met Hom gekruisig is, het Hom ook beledig. – Markus 15:21-32

Die gedeelts wat ons lees en oordink is swanger met onreg. ʼn Man van Afrika dra Jesus se kruis. Sy verswakte liggaam kan nie meer nie. Die Romeine kon vanweë die gesag wat hulle gehad het iemand daartoe opkommandeer.

Hy bied nie weerstand nie maar doen dit gewillig. Hy was waarskynlik juis in Jerusalem gewees om deel te hê aan die Paasfees. Nou dra hy die Lam se kruis. Ek wonder wat deur sy gedagtes gegaan het?

Betekenisvol en dalk juis kommentaar op die vooroordeel en agterdog wat so deel van ons menswees is. Rassisme word hier op sigbare wyse deurbreek.

Nadat die kruisiging voltrek was, ruwe spykers in sy hande en voete, word ʼn bietjie wyn met mirre, sommige sê as ʼn weldaad, ʼn stukkie medemenslikheid midde die brutaliteit van dit alles Jesus aangebied, maar Hy weier om dit te neem.

Joh. 10:17-18 –  “Die Vader het My lief omdat Ek my lewe aflê om dit weer op te neem. Niemand neem dit van My af nie, maar Ek lê dit uit my eie af. Ek het die volmag om dit af te lê, en Ek het die volmag om dit weer op te neem. Dit is die opdrag wat Ek van my Vader ontvang het.”

Hy bly in beheer. Hy is nie ʼn slagoffer nie. Hy kies om te betaal sodat ander gered kan word. Verbygangers laster, die skrifgeleerdes spot, die misdadigers, een aan elke kant beledig Hom.

Sy klere word onder die soldate verdeel. Dit was die beloning van die soldate wat hierdie wandaad deurgevoer het. So word die profetiese woord vervul sonder dat die skare dit begryp of verstaan.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Von ·

Here Jesus mensewoorde ontbreek om hierdie daad van liefde te verklaar….ek bring vir U al die Lof, die Dank en Eer vir die offer van alle offers wat vir my vryheid waarborg in die naam van Jesus Chritus …Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.