ToekomsVenster: Jesus word gevange geneem

donker-pad-woud

Foto:
Michael Mouritz/Unsplash.com

Op daardie oomblik, terwyl Jesus nog praat, kom Judas, wat een van die twaalf was, daar aan saam met ‘n klomp mense met swaarde en stokke. Hulle is deur die priesterhoofde en die skrifgeleerdes en die familiehoofde gestuur. Die verraaier het met die mense ‘n teken afgespreek. Hy het gesê: “Die een wat ek sal soen, dit is hy. Gryp hom en vat hom weg. Moenie dat hy ontsnap nie.” Toe hy dan daar kom, het hy reguit na Jesus toe gegaan en gesê: “Rabbi!” en Hom met ‘n soen gegroet. Die ander het vir Jesus gegryp en Hom gevange geneem. Een van dié wat daarby gestaan het ‘n swaard uitgepluk, daarmee na die slaaf van die hoëpriester geslaan en sy oor afgekap. Jesus sê toe vir die mense: “Het julle met swaarde en stokke gekom om My te vang asof Ek ‘n rower is? Dag vir dag was Ek by julle besig om die mense in die tempel te leer en julle het My nie gevange geneem nie. Maar die Skrif moet in vervulling gaan.” Toe het al sy dissipels Hom in die steek gelaat en weggehardloop. ‘n Sekere jongman is saam agter Jesus aan, met net ‘n doek om sy lyf. Die mense gryp hom toe, maar hy het die doek gelos en kaal weggehardloop – Markus 14:43-52

Judas, een van die twaalf, die verraaier, soengroet Jesus met die woord “Rabbi” wat beteken, my meerdere, my meester, my leermeester. Met hierdie handeling wys hy die gepeupel watter een Jesus is. Almal was klaarblyklik nie met hom bekend nie.

Die soen maak die verraad soveel erger.

Gewapen met stokke en swaarde, sonder oordeel en onderskeiding, aan die neuse rondgelei en bedrieg, daag die raserige skare op om Jesus na die wagtende geestelikes te neem. Hulle is nie daar nie. Daar is nie sprake van integriteit nie. Hulle kom nie met ʼn netjies en gesubstantiveerde klagstaat na Jesus nie, hulle bly tuis terwyl ander hul vuil werk moet doen.

Dis die taktiek wat hier gebruik word. Die belhamels is tuis. Hulle misbruik eenvoudige mense vir hul eie bose planne. Die mense laat hulle misbruik in ʼn tragiese simfonie van geweld wat niemand help nie.

Wat maak ʼn mens, veral as dit die kerk is wat homself skuldig maak aan die soort van taktiek?

Vir ʼn oomblik neem een van die dissipels beheer en slaan die slaaf van die hoëpriester se oor af. In ander Evangelies word hy deur Jesus tereg gewys en word die slaaf se oor genees. Na hierdie heldedaad vlug almal en word sy woorde in die vorige gedeelte vervul. “Julle almal sal my verlaat” terwyl “ons sal dit nooit doen nie Here, ons sal eerder vir U sterf” in die kranse eggo.

Sjoe, die drama van hierdie oomblikke. Van hier af begin ʼn pad van ongekende vernedering en vergeseling.

Leef jy met onderskeiding?

Paulus bid vir die gemeente Fil. 1:9-10: Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom. Dan sal julle op die dag wanneer Christus kom, onberispelik en sonder blaam wees.

Moenie soos die gepeupel in die gelese gedeelte elke wind van lering blindelings navolg sonder om met God daaroor te praat, deeglike navorsing te doen en dán eers ʼn verantwoordelike besluit te neem nie. Streef na geestelike volwassenheid.

Ef. 4:13 – So sal ons uiteindelik almal kom tot die werklike eenheid in ons geloof en in ons kennis van die Seun van God. Dan sal ons, sy kerk, soos ‘n volgroeide mens wees, so volmaak en volwasse soos Christus.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frieda ·

Dankie vir hierdie leering en ook elke dag s’n ek waardeer dit en gebruik dit elke oggend in my stiltetyd.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.