ToekomsVenster: Jesus word in Bethanie gesalf

olies

Foto: Pixabay/Pexels.com

Jesus was in Betanië in die huis van Simon die melaatse. Terwyl Hy aan tafel was, het daar ‘n vrou gekom met ‘n albaste fles egte, baie duur nardusolie. Sy het die fles oopgebreek en die inhoud daarvan op sy kop uitgegiet. Party van die mense het onder mekaar hulle verontwaardiging uitgespreek: “Waarvoor is hierdie vermorsing van reukolie? Hierdie reukolie kon vir meer as drie honderd silwermuntstukke verkoop en die geld vir armes gegee gewees het.” En hulle het teen haar uitgevaar. “Laat staan haar,” het Jesus gesê. “Waarom maak julle dit vir haar moeilik? Sy het ‘n goeie daad aan My gedoen. Julle het tog altyd armes by julle, en wanneer julle wil, kan julle aan hulle goed doen, maar vir My het julle nie altyd by julle nie. Wat sy kon, het sy gedoen. Sy het vooruit al my liggaam gesalf as voorbereiding vir my begrafnis. Dit verseker Ek julle: Oral waar die evangelie in die hele wêreld verkondig word, sal daar ook vertel word wat sy gedoen het, tot ‘n herinnering aan haar.” – Markus 14:3-9

Harde harte is nie mooi nie. God wil ons daarvan verlos. Foutvind en afguns is niks anders as ʼn verharde hart nie.

Die vrou berei Jesus se liggaam vir sy dood voor. Sy vervul ʼn profetiese handeling. Sy is nie eens bewus van hoe belangrik en strategies haar handeling is nie.

Het jy al iets gedoen en agterna eers gehoor hoe dit iemand anders geseën het terwyl dit nie aanvanklik jou intensie was nie? God weet vooruit, so ook in hierdie edele handeling.

Die olie was duur en het haar waarskynlik haar jaar se lone gekos. Dis baie geld as ʼn mens aan jou jaarlikse salaris dink en jy spandeer dit op een enkele item. Jy moet baie seker wees dat daardie aanwending van jou swaar verdiende geld die moeite werd was. Die saak waaraan jy ʼn jaar se lone spandeer moet belangriker wees as enige ander saak. Die risiko dat jy persoonlik gaan gebrek ly as gevolg van die handeling is ook nie gering nie.

Desnieteenstaande besluit die naamlose vrou, in ander gedeeltes as Maria geïdentifiseer, om op hierdie wyse op te tree.

Wat is vir jou belangrik en waaraan is jy bereid om aansienlik en met persoonlike opoffering te spandeer? Wat het dit met die ewigheid te doen?

Sommige van die mense daar is vinnig om hierdie handeling van die vroue te evalueer. Hulle kyk nie verder as hulle eie vooroordeel en verkeerde gesindheid nie. Hulle het geen belang by die armes nie en het ook geen intensie om daarby betrokke te raak nie. Die fokus is nou net nie meer op hulle nie. Die vrou het die aandag van hulle kom steel. Hulle is nie meer die middelpunt van belangstelling nie maar ʼn eenvoudige vrou stap die vertrek binne en trek al die aandag op haar.

Dis dieselfde siekte waaraan die geestelikes van die dag gely het. Ek sal nie verbaas wees as sommige van hulle die geestelike sirkel verteenwoordigend nie.

Jesus laat Hom nie intimideer nie. Die vrou het Hom vir sy begrafnis voorberei. Sy was in die geskiedenis opgeteken wees as ʼn vrou wat ʼn weldaad aan Jesus verrig het. Hulle opmerking dat die reukolie vermors is gee ook hul ingesteldheid teenoor Jesus weg. Hulle is ver van verlief op die man. Hulle is deel van die geselskap eerder vir persoonlike voordeel as ʼn versugting na heiligmaking.

Die interessante is Jesus se optrede. Hy het tog ʼn hart vir mense wat swaarkry. Maar realisties gesproke sal die armes altyd met ons wees. Jesus se tyd op aarde raak korter. Dis reg dat Hy op hierdie wyse geëer en vereer word.

Hy is ook die armes se God. Hy sal vir hulle sorg. Eerste dinge eerste. Eers ons toewyding aan die Here en dan ons dienswerk.

Wat verklap jou woorde en dade, jou kritiek van jou? Mense is so gou om ander te weeg en te lig te bevind.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.