ToekomsVenster: Jou eerste woorde kan jou dag bepaal

(Foto: Edurne Chopeitia/Unsplash)

“Wat julle sê, moet altyd vriendelik wees en van goeie smaak getuig; en julle moet weet hoe julle elkeen behoort te antwoord.” − Kolossense 4:6 (AFR83)

Woorde is kragtig, selfs al bedoel ʼn mens nie om dit opsetlik te gebruik nie. Woorde skep ʼn omgewing waarbinne jy positiewe of negatiewe ervarings ontsluit.

Woorde het nie net betekenis en impak op die een wat dit gebruik nie, maar ook op ander wat dit hoor. Om die waarheid te sê woorde kan selfs ʼn impak hê op mense wat dit self nie gehoor het nie.

Ek herinner my aan my eerste woorde soggens wanneer ek wakker word en hoe uitdagend dit is om die dag met positiewe geloofsuitsprake, gevul met verwagting, te begin.

Ek wonder stellig of jy ook soggens, nog voor die dag behoorlik aangebreek het en die eerste paragrawe van die dag se gebeure geskryf is, van die volgende opmerkings maak:

  • Ag ek wens ek hoef nie vandag te gaan werk nie.
  • Ek het ʼn hewige hoofpyn en voel nie lekker nie.
  • Hierdie lyf is so seer, dit voel nie soos myne nie.
  • Ek het nie ʼn oog toegemaak nie.
  • Ek het die aakligste nagmerrie gehad gisteraand.
  • Ek is gespanne en my maag is op ʼn knop getrek.
  • Ek is nie lus nie.

Op die oog af onskuldige praatjies, maar oorweeg vir ʼn enkele oomblikke watter impak dit op jou dag en die van ander mag hê.

Dit is asof jy uit die kaleidoskoop van kleure wat tot jou beskikking is, donker swart en grys, gekies het.

Van blou, oranje, groen en rooi is daar nie sprake nie.

Die buitelyne is reeds getrek, al wat jy verder hoef te doen is om die moeitevolle besonderhede in swart en grys in te vul.

Later vandag en terug by jou huis bly jy op dieselfde trajek van negatiewe uitsprake:

  • Die verkeer is ʼn nagmerrie.
  • Die taxi’s het geen ontsag vir ander mense nie .
  • Ek haat my werk.
  • Eet ons alweer maalvleis.

Ek het nodig om myself uit te daag en dalk vir jou ook.

Sal ons nie elke dag begin met: “Dit is die dag wat die Here gemaak het, laat ons daaroor juig en bly wees”

Verf met koninklike kleure, koninkrykskleure, warm en vriendelik.

Ons eerste woorde voortaan, is woorde van geloof en verwagting.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Charl ·

My 1ste woorde is om God te dank vir die nuwe dag en die feit dat ek lewe !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.