ToekomsVenster: Jou geloofslewe is soos ’n wedloop

drawwer-hardloop-pretdraf-fiksheid

(Foto: Skeeze/Pixabay.com)

Met so ’n magtige skare toeskouers rondom ons om ons in die wedloop van die geloof dop te hou – kom ons stroop alles af wat ons spoed kan vertraag, veral die sonde wat so maklik ’n houvas op ’n mens kry. Kom ons hardloop met volharding op die baan wat voor ons uitgestrek lê. – Hebr. 12:1

Die metafoor van ʼn wedloop is bekend en gepas vir die geloofslewe.

Ek is daarvan oortuig dat ons elkeen al iewers aan ʼn wedloop deelgeneem het. Ek onthou skooldae waar die begin van die jaar atletiekseisoen beteken het en dan word uitdunne gehou. Sommige doen goed en word deel van die skoolspan wat by ʼn interskole sportbyeenkoms deelneem.

Ander, die meerderheid terloops, word na die pawiljoene geskuif en moet onder aanmoediging van ʼn aantal lawwe rasieleiers gees vang.

Ek het nooit die voorreg gehad om aan enige anders as die heel eerste ronde van die uitdunne deel te neem nie. Laaste kom was my voorland. Laaste is ook ʼn plek en iemand moet noodwendig laaste kom. Dit beteken nie dat jy nie waarde het of bespotlik is nie alhoewel maats soms maar ongevoelig kan wees.

Gelukkig het ʼn mens met tyd ontdek dat gawes en talente op verskillende vlakke lê. Sommige is atlete en ander musikante, terwyl ander weer akademies aangelê is.

Die teks in Hebreërs is mos baie bekend, nie waar nie. Ons neem almal aan die wedloop van die lewe deel. Sommige het daardie wedloop voltooi. Daar is nie sprake van omdraai of weer begin nie.

Somtyds oorval die moegheid jou of wil jy in moedeloosheid iewers gaan sit en opgee. Dan besef jy dat daar geen keuse is nie. Die wedloop moet voltooi word.

Elkeen wat deelneem is ʼn wenner in eie reg.

Soos op skool is daar ʼn skare op die pawiljoene. Interessant dat die teks praat van ʼn magtige of groot skare. Hulle is nie mense wat in die uitdunne uitgeval het nie, inteendeel. Hulle is mense wat die wedloop suksesvol voltooi het. Hulle taak is om ons wat steeds op die baan is aan te moedig en te ondersteun.

Soos mense by die wenstreep aankom, uiteraard met hul vertrek van hierdie aardse realiteit breek die skare in toejuiging uit: “Jy het dit gemaak. Baie geluk, mooi so, trots op jou”.

Ja, die Here het gehelp, trouens Hy verdien in alle opsigte die eer maar dit bly jy wat die wedloop voltooi het. Mooi so, gaan neem nou jou plek op die pawiljoen in en bemoedig die mense wat nog op die baan is. Hulle het dit nodig soos jy dit nodig gehad het.

Die wedloop strek voor ons uit. Kom ons hardloop dit sonder om terug te deins. Ons raak ontslae van die goed wat ons kan pootjie.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yvonne ·

Dankie Here vir genade wat my ook n wenner maak al verdien ek niks

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.