ToekomsVenster: Jou sonde en oortredinge is vergewe


stadiger-lewe

Foto: Chiangmainews.co.th

Dis die laaste week van 2016 en ons neem afskeid van die jaar. As jy ʼn bietjie nadink oor die afgelope jaar, hoe sou jy dit opsom?

Uitdagend, opwindend, ambisieus? Teleurstellend, vol beproewing en hartseer?

Dink so ʼn bietjie daaroor na en gee inhoud aan die jaar wat verby is. Terugkyk help met vorentoe kyk!

Ek wil dié week met jou gesels oor ʼn paar aspekte wat verband hou met die jaar wat verby is.

Die eerste is die waarheid dat ons almal in die afgelope jaar selfs meermale teen God gesondig het.

Ja, dis nodig dat ʼn mens op ʼn daaglikse grondslag met God sal praat oor sonde en verkeerde optrede. Tog is daar baie mense wat te midde van die gejaagde lewe nie daarby uitkom nie.

Daarom moet ons dalk net vir ʼn oomblik nadink oor die kwessie dat ons in die jaar wat verby is teenoor die Here oortree het in ons keuses, in rebellie en ongehoorsaamheid.

Ons wil dit nou voor die Here bring.

Luister na die wonderlike Woord van die Here:

As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie. Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid. – 1 Johannes 1:8-9

Oorweeg ook:

As U ons sondes in aanmerking sou neem, Here, wie sou dan nog bestaan?
Maar by U ís daar vergifnis: daarom word U steeds gedien. – Psalm 130:3-4

Barmhartig en genadig is die Here, lankmoedig en vol liefde. – Psalm 103:8

So ver as die ooste van die weste af is, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af. – Psalm 103:12

Dis die uitnemende waarheid uit God se Woord. Hy vergewe en is genadig. Moenie met jou ʼn tassie vol onbelyde sonde saamvat nie.

Laat Hom toe om jou te was in sy kosbare bloed.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

lewies ·

Jannie, ek na jou boodskap geluister, baie dankie daarvoor. Daar is egter een vraag wat by my ontstaan wanneer ons oor vergewing van sondes praat en dit is: ” Sou dit verkeerd wees om te se dat God ons sondes vergewe, maar nie noodwendig Sy straf ophef nie. Baie gelowiges worstel met hierdie probleem en kinders van die Here verlaat die kerk agv hierdie probleem. Kan ons die vergewing van sondes eensydig hanteer sonder om die tweede element nl. die Here se straf op die sondes ook aan te spreek nie. Dit ontnugter gelowiges, as hulle weet en glo dat God sondes vergewe, maar duidelik die straf van die Here ervaar in die hier en nou. ‘n voorbeeld waaraan ek dink is. “verkeerde besluite”. Werp asb lig op hierdie dilemma?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.