ToekomsVenster: Jou stilhouplek langs die pad

(Foto: Claudine/Unsplash.)

Toe ons kinders was, was stilhou langs die pad ʼn ritueel. Jy het daarna uitgesien en lank daaroor nagedink.

Die kosmandjie is vooraf gepak: hardgekookte eiers en konfytbroodjies, dalk hoenderporsies en frikkadelle daarmee saam. Egte koffie uit die fles en suiker om dit soet te maak is ook ingepak.

Van ver af het jy begin uitkyk na ʼn geskikte plek om af te trek. Daar was gewoonlik ʼn aanduiding van sulke rusplekke en dit het die pad effens korter gemaak.

Elke paar “myl” was daar ʼn merker in die grond geplant wat die afstand in teenoorgestelde orde afgetel het. Hoe nader jy aan jou bestemming gekom het hoe minder het die myle geword.

Ons het toe nie van kilometers, gram en liter geweet nie. Dit was myle, gellings en pond. Ook rand en sent was onbekend, wat dit was pennies, sjielings en ponde.

ʼn Bietjie het jou ver gebring.

Terug na die stilhou plek langs die pad. As jy gelukkig was, het jy ʼn skoon aftrekplekkie gekry. Meermale het die vullishouer reeds oorgeloop en eierdoppe het fyn gemaal langs die drom gelê maar dit was nog lekker en iets waarna ʼn mens uitgesien het. Vir ander behoeftes het die “garage” in die volgende dorp voorsiening gemaak.

Ryk mense het in die restaurant gesit en eet. Die res van ons het verby gery.

Vandag is ons bederf met verskeie aftrekgeleenthede langs die pad met restaurante, kleedkamers en selfs speelterreine ingerig. Selfs Wagter se bakkie water is uitgesit.

Inderdaad ʼn mooi herinnering, die stilhou langs die pad.

Hierdie tyd van afsondering is so ʼn geleentheid. Dalk moet ons bewustelik terugkeer na die eenvoud van destyds.

Jy kan nie nou by die naaste “Wimpy” stilhou nie, maar gaan geniet hardgekookte eiers, hoenderporsies en konfytbroodjies onder enige iets wat soos ʼn boom in die tuin lyk.

Nostalgies en nodig. Lekker aftrek!

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.