ToekomsVenster: Jy hoef nie almal saam te neem nie

Foto: Remi Skatulski/Unsplash.com

Wat Ek vroeër aangekondig het, het plaasgevind. Ek kondig nuwe dinge aan. Voor dit begin gebeur, laat Ek julle al daarvan hoor. – Jesaja 42:9

Nog ʼn gedagte oor die nuwe jaar. Cas Wepener, skrywer en akademikus, skryf onder die opskrif en sekerlik met betrekking tot die jaar 2020 dat dit ʼn tyd is vir die oue en die nuwe. Die twee terme “opwinding en aarseling” is kenmerkend van die oue en die nuwe.

Jaarwisseling is ʼn tyd vir onthou en vergeet. Potlood en uitveër is deel van die oefening wat Cas skryf. Daar is inderdaad dinge wat eerder begrawe moet word. Om telkens hartseer, teleurstelling en ontnugtering op te grawe en af te stof, vir ʼn wyle daaraan die herkou of pruim net om dit weer in growwe koerantpapier toe te draai en weg te bêre met die voorneme om te vergeet, is iets waarmee ons almal bekend is. Maar ons vergeet nie. Die spoke van die verlede kom altyd weer na vore tensy ons besluit om vir altyd daarmee af te handel.

Die vraag is wat en wie wil jy met jou die toekoms inneem? Jy hoef nie almal saam te nooi nie. Die Bybel sê immers in Romeine 12:18 “sover dit van julle afhang leef in vrede met alle mense”.

Vir sy dissipels sê die Here skud die stof van julle voete af as die dorp nie julle vrede wil ontvang nie. (Matt.10:14)

Vertroetel die gevoel van afwagting, die nuwe, die onverwagte en verrassende. Aarseling, onthou, en opwinding sê Cas “lê lepel”. Die interessante samehang van oud en nuut.

Jesaja leer ons mooi. “Moenie net by die ou dinge vasstaan nie. Ek wil ʼn nuwe ding doen. Julle kan dit al sien kom”.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.