ToekomsVenster: Jy hoef nie noot te kan hou

(Foto: David Beale/Unsplash)

“Sing onder mekaar psalms, lofgesange en ander geestelike liedere; sing met julle hele hart tot eer van die Here.” – Efesiërs 5:19 (AFR83)

Om te sing is ʼn wonderlike gawe. Daar is mense wat jou asem wegslaan met die manier waarop hulle met hul stemme bekoor. Basse, alte, soprane, noem maar op, ʼn heerlike verskeidenheid.

Wat is mooier as ʼn kooruitvoering waarin verskillende stemme saamsmelt om ʼn lieflike simfonie te vorm?

Ek wonder stellig wie jou gunsteling-sanger of -sangeres is.

Dan is daar natuurlik nog verskillende genres van musiek. Van opera tot kletsrym. Hoe dié mense die woorde nie net gememoriseer kry nie maar so vinnig agtermekaar ryg en op so ʼn wyse dat dit musikaal van aard is, weet net hulle.

Die Psalmdigter roep die vergaderde gemeente op om te sing. Hy is ernstig daaroor, derhalwe herhaal hy die opdrag drie keer. Ek dink dit is eerder ʼn uitnodiging as ʼn opdrag. Wanneer jy jou stem voeg by die van die res van die geskape werklikheid, weet jy dat die Here leef.

“Sing ʼn nuwe lied tot eer van die Here, sing tot eer van die Here, almal op aarde! Sing tot eer van die Here, prys sy Naam, verkondig elke dag sy reddingsdade!” – Psalms 96:1-2

Sommige mense sê hulle kan nie sing nie. Ek dink nie dit is waar nie. Jy is dalk nie nootvas nie. Jy mag voel dat jy nie musikaal is nie. Dit mag so wees, maar jy kan steeds sing.

In elk geval, wanneer dit by die lof en aanbidding van die Here kom sing jy nie om ander te beïndruk nie. Jy sing omdat dit die regte en dankbare ding is om te doen.

Die teksvers maan lesers om ʼn nuwe lied te sing. God stagneer nie. Hy is gister, vandag en tot in ewigheid dieselfde; sy liefde en ontferming duur van geslag tot geslag. Tog is Hy dinamies met ons elkeen, individueel en gesamentlik, op pad.

Jesaja doen dan juis ʼn oproep dat ons nie by die verlede sal vasval nie.

Dit is ʼn groot versoeking om die verlede te idealiseer. Toe was alles beter redeneer ons.

Dit is waarskynlik nie heeltemal die waarheid nie, omdat alle seisoene uitdagings het wat te bowe gekom moet word.

Die uitdaging is om met nuwe oë na die toekoms te kyk en moontlikhede te verken.

Mense het die merkwaardige vermoë om innoverend te wees. Kreatiwiteit, die vermoë om vars te dink oor bestaande situasies, verras ʼn mens telkens weer.

Die digter sê: “Sing ʼn nuwe lied”.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.