ToekomsVenster: Jy hou vir altyd

Foto: Vlad Tchompalov/Unsplash.com

Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie. – Johannes 10:28

Ons het gister na die “melkbaard amateur golfspeler” verwys. Van ʼn nog meer bekende tennisspeler, Suid-Afrikaans daarby, lui die opskrif – “Kanniedood Kevin reg vir Aussie Ope”. Kevin wat ses maande gelede nog met ʼn kniebesering moes uitsit het  ʼn dramatiese sege behaal in Brisbane teen die gedugte Fransman Benoit Paire.

Dis die woord “kanniedood” wat my opval. Ek woon interessant genoeg ook in “Kanniedoodstraat” en dis die lekkerste lekker om my adres aan mense te gee. Ek vertrou met my hele hart dat dit ʼn profetiese blik op my lewe mag wees. Nie omdat ek iets besonders is nie maar omdat die Gees binne in my, die Heilige Gees, doodgewoon weier om handdoek in te gooi.

Toegegee, dit is nie altyd maklik nie en soos met Kevin is daar geestelike, emosionele en selfs fisiese “kniebeserings” wat ʼn mens selfs maande lank op die kantlyn laat sit. Dit is egter nie vermorste tyd nie en nadat jy deur die gebruiklike en uitgediende verwysingsraamwerke van twyfel, verwyt, selfbejammering, slagoffer speel en opgee gewerk het  vind jy die genade om weer op te staan.

Die Gees van God het Jesus uit die dood opgewek.

Christengelowiges is “kanniedood mense”. Jy kan hulle nie “doodkry” nie, selfs nie deur die dood heen nie omdat daar ʼn erfdeel op hulle wag.

Kom ons neem onsself dit voor dat ons in hierdie jaar ʼn bietjie ruggraat gaan vorm, geestelike ruggraat. Laat die Heilige Gees toe om jou aan die hand te vat en soos die verlamde by die tempelpoort selfs na 40 jaar van verlamming weer op te trek. Vir die wat glo sal niks onmoontlik wees nie.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.