ToekomsVenster: Jy is eiendom van God

wees-n-liggie

Foto: Pavlofox/Pixabay.com

Die bedoeling is dat ons nie deur Satan uitoorlê word nie! Sy planne is mos nie aan ons onbekend nie! – 2 Kor. 2:11

Ons verwyt graag die duiwel vir die verkeerde goed wat in ons lewens gebeur. Hy staan pa vir dinge waarvoor ons egter dikwels maar self die verantwoordelikheid moet dra.

Tipies mens soek ons na iets of iemand wat die blaam namens ons kan dra. Ons kom egter nie so maklik weg met dié redenasie nie. Immers, gelowiges het die Woord van die Here en die toerusting van die inwonende Gees, ook die onderskeiding wat Hy bied, wat dit ietwat moeiliker maak om sommer die blaam te verskuif.

Die Bybel leer ons tog: “Moenie die duiwel ʼn vatkans gee nie, weerstaan die duiwel en hy sal van julle af wegvlug”.

Wat hy suggereer en voorstel is leuens, daar is geen waarheid in hom nie. Adam en Eva was die eerste mense wat voor sy leuens geswig het. Hulle is nie die laaste nie. Hy verlei mense en slaag steeds daarin.

Die teks sê egter dat ons met die planne van die bose bekend is. Die Bybel leer ons daarvan. Hy weerstaan die waarheid, hy intimideer en ontmoedig gelowiges, hy ondergrawe en bedrieg.

Hy stuur sy demone om sy sieklike werk voor te sit. As ʼn mens hoegenaamd wonder oor die vrug van die duiwel se optrede en bestaan hoef jy net rondom jou te kyk. Hy het geen goeie bedoelinge met enige mens nie. Hy loop soos ʼn brullende leeu en soek mense wat hy kan verslind.

Verskeurde lewens lê die wêreld vol gestrooi. Hy is nie ons speelmaat nie en jy kan hom nie kaalvuis oorwin nie. Net die Naam van die Lam van God, sy voltooide werk aan Golgota se heuwel, sy voorbeeld en inspirasie, sy beskerming en toerusting kan ʼn mens teen die bose se aanvalle verskans.

Die volle wapenrusting wat God gee is ons wapentuig, daarmee blus ons die vurige pyle van die bose.

Moenie dat die duiwel jou uitoorlê nie. Hy is ʼn oorwonne vyand. Hy het geen seggenskap oor jou nie. Jy is eiendom van die Here self.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.