ToekomsVenster: Jy is genoeg

Foto: Martin Katler/Unsplash.com

Omdat jy vir My kosbaar is, omdat Ek jou hoog ag en jou liefhet, gee Ek mense in jou plek, volke in ruil vir jou lewe. – Jesaja 43:4

In gesprek met Hanlie Retief gee Mej. Heelal, Zozibini Tunzi, toe dat daar tye is waar sy steeds oorweldig word deur ʼn gebrek aan selfvertroue en wonder of sy “goed genoeg” is.

Haar beskeie begin ten spyt kon sy uitstyg en ʼn sukses van haar lewe maak. Vandag verteenwoordig sy Suid-Afrika internasionaal en bring hoop aan talle jongmense wat worstel met die vraag wat van hulle gaan word.

Ons word in Suid-Afrika geteister met verskeie uitdagings waarvan armoede en werkloosheid seker die vernaamste is. In gesprek op ʼn radiostasie vanoggend word gemeld dat talle jongmense in hul leeftyd nooit ʼn vaste betrekking sal hê nie.

Die vraag of “ek genoeg is” uiters relevant. Ons word groot in ʼn samelewing waar net die beste, slimste, mooiste en vinnigste die kroon dra. Vir gemiddeldes is daar nie plek nie en wie die mas nie kan opkom nie moet dikwels self sien kom klaar.

Feit van die saak is dat ons unieke individualiteit, persoonlikheid, gawe kombinasie en passie ons uitsonder tussen die res. God gebruik geen bloudruk meer as een keer nie. Elke patroon is uniek en eenmalig en God droom oor elkeen van sy kinders. Ps. 139 vertel juis met hoeveel sorg God ons in ons moederskoot aanmekaar geweef het. Ons identiteit lê in die eerste plek in wat Hy van ons sê. Daar kan geen twyfel wees dat Hy ons onuitspreeklik lief het nie en inderdaad die beste vir ons wil.

Die lewe gebeur, die huidige bestel is nie ideaal nie, na beide kante is daar onreg, diskriminasie en verontregting.

Jong mense is nie aandadig aan die stukkend van ons samelewing nie maar betaal die grootste en duurste prys. Ons jong mensehet hoop broodnodig. Mentors, opvoeders, geestelikes, ouer mense, vaders en moeders in die samelewing moet kinders voortdurend daaraan herinner dat hulle fenomenaal uitsonderlik is. Dit maak nie opgesmuk nie maar motiveer om uit te styg en ten minste te probeer.

Ek wonder of jy ook met die verlammende negatiewe inspraak dat jy “nie genoeg” is nie, minderwaardig, onbelangrik, klein en onaansienlik, minder as, agterlik en dom worstel. Jy weet mos dit is ʼn leuen uit die hel. Glo ons God of glo ons die bose en die soms onnadenkende uitsprake wat mense maak?

Jy is genoeg.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae