ToekomsVenster: Jy is geseënd

(Foto: Guillaume de Germain/Unsplash)

Daarna het Hy hulle uit die stad uitgelei tot by Betanië. Daar het Hy sy hande opgehef en hulle geseën. Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan en is Hy in die hemel opgeneem. Hulle het Hom aanbid en met groot blydskap na Jerusalem toe teruggegaan. Daar het hulle die hele tyd by die tempel gebly en God geprys. – Lukas 24:50-53

Jesus lei sy dissipels na die buitewyke van Bethanie. Daar neem Hy van hulle afskeid. Ek wonder waaroor sou hulle langs die pad gesels het. Miskien sou Jesus sommige vrae antwoord, gerusstelling gee, verdere opdragte en vertroosting. Hy sou sekerlik sy waardering betuig vir die drie jaar van noue vriendskap wat tussen hulle ontwikkel het. Hulle sou op hul beurt hul liefde en waardering vir Hom betuig. Miskien sou hulle lekker lag oor interessante, selfs humoristiese oomblikke wat hulle met mekaar gedeel het terwyl Jesus tussen mense rondgegaan het.

Die Bybel gee nie besonderhede nie, maar dit is tog interessant om daaroor na te dink. Nou is dit tyd vir afskeid neem.

Lukas vertel dat Jesus sy hande uitgereik het en met seënwense van hul afskeid geneem het. Dit moes ’n onuitwisbare indruk op hulle gemaak het. Die laaste prentjie wat in hul geheue bly vassteek is die van ’n Jesus wat seën.

Wat die inhoud daarvan was, daaroor kan ons net teoretiseer.

Miskien was dit die bekende woorde van Numeri 6:24-26.

“Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee!

Miskien was dit die mooi Franciskaanse seën.

Mag die Here jou seën met ongemak oor maklike antwoorde, halwe waarhede en oppervlakkige verhoudings sodat jy uit die diepte van jou hart kan leef;

Mag die Here jou seën met woede oor onreg, onderdrukking en die uitbuiting van mense sodat jy kan werk vir geregtigheid, vryheid en vrede;

Mag die Here jou seën met trane om te stort vir mense wat pyn, verwerping, honger en oorlog ervaar sodat jy ʼn hand kan uitreik en hulle pyn in blydskap kan verander.

En mag God jou seën met genoeg dwaasheid om te glo dat jy ʼn verskil kan maak in hierdie wêreld, sodat jy dinge sal kan doen wat ander mense dink nie gedoen kan word nie.

Wat ook al die inhoud daarvan was, dit sou gepas en tersaaklik wees. Essensieel sou dit ’n belofte van Jesus se voortdurende betrokkenheid en sorg by en met hulle wees.

Daar kan geen twyfel wees dat daardie seënbede aan hulle die nodige stukrag verleen het om die toekoms met geloofsmoed tegemoet te gaan nie.

Is die prentjie wat jy van Jesus het ook een van Iemand wat jou in alle opsigte wil seën?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Heer is daar iets vir U onmoontlik…… ek glo met my hele hart aan Jesus Christus die opgestane Heer en dat U weer kom..Amen

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.