ToekomsVenster: Jy is nie alleen nie

(Foto: Benjamin Davies/Unsplash.)

Wanneer jy die regte koers verlaat, sal jy agter jou ʼn stem hoor sê: ‘Hier is die pad, loop hierlangs’.” – Jesaja 30:21 (AFR83)

Jesus se reis op aarde is die kaart waarlangs ons moet loop.

Sommige mense redeneer dat Jesus klaar die pad van swaarkry geloop het sodat ons die swaarkry gespaar word. Ongelukkig is dit ver verwyder van die realiteit en ver verwyder van wat God se Woord leer.

Dink aan die eerlike en grafiese Romeine 8:31. Niks word ons gespaar nie.

Ons loop die pad wat Jesus geloop het.

Elke oomblik kom eweneens na ons toe, soms letterlik, soms by wyse van spreke.

Ons sterf nie aan ʼn kruis nie, maar word dikwels self daaraan vasgespyker deur die gewetenloses rondom ons.

Ons loop nie die pad van vernedering wat Jesus geloop het nie, maar ken vernedering.

Ons word nie voor die owerheid gedaag nie, maar ons integriteit word dikwels bevraagteken.

Jesus het die pad gestap, ons kan in sy spore die toekoms aanpak en die reis bewandel. Hy ken elke tree, elke uitdaging. Ons sal nooit kan sê: “U weet nie waarvan ons praat nie”.

Van geboorte tot by die dood, het Hy die pad met onderskeiding geloop.

Hy het gehuil sodat ons trane nie verniet gestort word nie.

Hy was honger sodat ons medelye kan hê met die wat swaarkry.

Hy weet waarvan ons praat.

Hy is nie onsimpatiek, op ʼn afstand of selfs weg nie. Hy loop weer en weer en weer die pad, maar Hy loop dit as die Koning van die Konings, omdat Hy self met oorwinnaarsklere beklee is.

Miskien is jy moedeloos, gebroke, hartseer, teleurgesteld, ontwrig, op moed verloor se vlakte.

Jy is nie alleen nie.

Gee die volgende tree in die wete dat Jesus dit voor jou, namens jou, geloop het en dat Hy dit ook nou in jou en met jou stap.

Geniet die reis, kyk die uitdagings in die oë, verwelkom die groei-oomblikke, staan op uit jou droewe lewensuitkyk en beskou die lewe as ʼn avontuur.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Susan ·

Bemoedigende boodskap, veral van toepassing op baie mense se gemoedstoestand tydens die moeilike tyd wat ons nou in ons land ervaar. Mense wat moedverloor het, moet die boodskap ter Harte neem, ons moet maar net die volgende tree gee met die wete dat Jesus reeds vooruit geloop het en ons paaie nog vir ons vorentoe in die donker land gelyk sal maak, ‘n lig vir ons voete sal wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.