ToekomsVenster: Jy is vry om reg te lewe


God-sentrum-van-my-lewe

Argieffoto.

Van Dawid.  Behartig my saak teen dié wat my aankla, Here, tree op teen my vyande. – Lees Psalm 35:1

Mense word beïndruk deur hofverrigtinge en sake.  Ons volg hofsake van bekendes selfs op TV.

Daar is die klagstaat en staatsaanklaer. Hy probeer die skuld van die aangeklaagde bewys en ‘n redelike vonnis beding. Reg en geregtigheid moet geskied. Die publiek moet beskerm word. Dit hoort so, immers God ken hierdie verantwoordelikheid aan die owerheid toe en vra dat ons gesag sal respekteer.

Die aangeklaagde is aangewese op die verteenwoordiging van sy regsadviseur of advokaat.  So ‘n persoon is bekwaam om die saak van sy kliënt in perspektief te stel en werp alles in die stryd om hom onskuldig te laat bevind.  Soms is sy kliënt onregmatig aangekla, ander kere is hy skuldig.

Ons het ook ‘n advokaat.  Die ontstellende feit egter is dat ons uit huis uit skuldig is aan die beskuldigings wat teen ons gebring word.  Ons is rebels (sonde is rebellie teen God), beterweterig en hooghartig.  Ons is haters van God en van ander.  Romeine sê dat dit ons natuurlike staat is.  Ons kele is ‘n oop graf, ons tonge verlei ons om ander te diskrediteer en agteraf te bespreek.  Ons is skuldig.

Iemand anders het egter reeds die prys (vonnis na skuldigbevinding) namens ons betaal, Jesus aan die kruis van Golgota.  Dis die verdediging wat aangebied word deur die Heilige Gees, ons advokaat.  “Ja edelagbare, my kliënt is skuldig maar die prys is reeds betaal, ook vir hom.

As die prys dan betaal is, het die hofprosedure geen sin verder nie.  Daar is aan reg en geregtigheid voldoen.  Die regter is tevrede.  Die aangeklaagde is vry om te gaan.

Nou is die aangewese ding tog om uit dankbaarheid anders te gaan lewe, die vrug van die bekering te dra, deel te word van die gemeenskap wat dieselfde genade ontvang het en ander te vertel van hierdie buitegewone ondervinding wat jy gehad het.

Jy is vry om reg te lewe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.