ToekomsVenster: Jy kry nuwe stories om te vertel

reis-uitkykpunt-stad

Foto: PicJumbo.com/Pexels.com

“Die twee en sewentig het vol blydskap teruggekom en gesê: ‘Here, selfs die bose geeste onderwerp hulle aan ons by die hoor van U Naam.’” – Lukas 10:17

Lukas het ’n superstorie vertel. Die Lukas-evangelie vertel die storie van Koning Jesus en die boek Handelinge vertel die storie van die Gees van die koninkryk en sy werking deur die burgers daarvan. Ons lees in Handelinge 15 van ’n besondere vergadering. In dié vergadering word stories gedeel en Paulus, ’n vrome Jood wat Jesus op weg na Damaskus ontmoet het, is aan die woord. Lees gerus Paulus en Barnabas se getuienisse oor die werk wat God onder die heidennasies gedoen het in Handelinge 15:1-35. Paulus het die werking van Koning Jesus nie net in sy eie lewe beleef nie, maar ook deur sy lewe.

Wanneer die Here jou lewensreisplanne verander, is dit nie net ’n reis na Damaskus wat verander nie, maar die totale fokus van jou lewe. Elke dag daarna sal ’n nuwe belewenis oplewer, omdat die Koning van die reis teenwoordig is.

Delf dieper

Lees Handelinge 8:26-40 en reflekteer op die storie van daardie dag en die getuienis, ervaring en herinnering wat dit vir Filippus gegee het.

Lees 1 Petrus 2:1-10. Petrus, die visserman van die huis van vis, Betsaida, het op ’n dag die lewensveranderende ontmoeting met Jesus van Nasaret gehad. Jesus het van hom, Simon die visserman, die Rots gemaak. Petrus het self gesien en geproe dat die Koning goed is. Wat sê hierdie gedeelte vir jou oor jou reis en die ervarings wat jy al as gelowige saam met die Koning van die reis gehad het? Meer nog, wat lê voor?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.