ToekomsVenster: Jy weet mos hoe dit voel

rooi-hart-ballonne

Foto: Michael Schaffler/Unsplash.com

As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is. – Joh. 13:35

Ek het onlangs met ʼn verteenwoordiger van Childline gesels oor boeliegedrag op skool. Dit is een van die hartseer werklikhede van ons land dat kinders mekaar somtyds genadeloos verniel. Selfs onderwysers loop deur. Onder aanstigting van die portuurgroep sal een skolier ʼn ander bydam terwyl iemand ʼn video daarvan maak en op sosiale media plaas. Dis ondenkbaar maar waar.

Ek het ʼn vermoede dat die meeste van ons weet hoe dit voel om geboelie, afgeknou te word. Dit mag binne die gesin, sosiale kring en veral werksplek wees waar sulke ervarings voorkom. Dis krimineel om iemand anders af te knou en daarmee weg te kom.

Die lydende party is dikwels te bang om te klik omdat dit die afknouery net gaan vererger.

My vraag, wat verband hou met ons en ander se geluk, (dis immers waaroor hierdie reeks handel) is waarom ons dit dan aan ander doen? Soveel te meer as jy al die ervaring gehad of selfs nou het.

Om jou frustrasie en pyn op ander uit te haal los niks op nie. Kyk jou negatiewe en destruktiewe gedrag in die oë en aanvaar verantwoordelikheid daarvoor. Soek hulp, dit is beskikbaar, daar is lewe aan die anderkant van boeliegedrag.

Boeliegedrag kan verbaal, fisies, emosioneel, in terme van ras en geslag plaasvind. Dis ʼn meerderwaardigheid waarsonder die samelewing kan klaarkom. Dit dra niks by tot iemand se geluk en lewensvervulling nie, inteendeel.

Die lewe is uitdagend genoeg soos dit is. Suid-Afrika is boonop nie ʼn maklike plek om in te leef en te oorleef nie. Ons skuld mekaar sê Paulus, niks behalwe om mekaar lief te hê nie. (Rom.13:8) Hy sê ook dat die liefde die naaste GEEN kwaad aandoen nie. (Rom.13:10) Jesus se gebod is om ander lief te hê soos Hy ons liefhet. (Joh.13:34)

Wat verstaan ons dan nie as ons onsself deur die bose laat misbruik om ander mense af te knou?

Die teenoorgestelde van sulke negatiewe gedrag is waardering, aanmoediging en hulp. Jy vind hulpbehoewendes oral. Dalk wil jy vandag help om die lewe ietwat makliker te maak.

Die Here het jou lief. Deel dit met ander.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.