ToekomsVenster: Jy weet nie wat vir jou voorlê nie

(Foto: Pixabay)

Hy wat by die Allerhoogste skuiling vind en die beskerming van die Almagtige geniet, hy sê vir die Here: ‘U is my toevlug en my veilige vesting, my God op wie ek vertrou’. – Psalm 91:1-2

Sekere ervarings laat ʼn mens net weer besef hoe verskriklik kort die lewe is; voorlopig, onvoorspelbaar en soms hartseer.

Jy staan tog nie in die oggend op en besluit dat die dag vol uitdagings gaan wees nie. Jy kan in elk geval nie vir die onbekende voorberei nie. Dit kom in allerlei gedaantes na jou toe. Dit verras, oorrompel en oorweldig jou.

Gedurende die week het ons, as gesin, weer diep bewus geword van die onvoorspelbaarheid van die lewe.

Mense binne ons onmiddellike verwysingsraamwerk is hierdie week deur 20 gewapende mans aangehou en beroof. Die episode het nie minder nie as drie ure lank aangehou. Personeellede is toegesluit en miljoene rande se voorraad is in ongemerkte trokke weggery.

Niemand het onraad vermoed nie, omdat die een persoon in die sekuriteitsmaatskappy wat op ʼn noodknoppie reageer het self aangehou is. Iemand anders, een van die personeellede, moes doodluiters, wapen teen die kop, straat op ry om voor te gee dat daar ʼn patrolliemotor is.

Die mense was gelukkig om met hul lewens daarvan af te kom. Dit maal in jou kop − wat kon gebeur het. Die een jongman se baba is Sondag wat verby is gedoop. Die ander is verantwoordelik vir die welsyn van sy meer as twintig personeellede.

Dit kon so anders geëindig het.

Ons leef in ʼn tyd waar mense se lewens oënskynlik niks werd is nie. Die gebeure by verskillende tavernes die afgelope tyd kom by ʼn mens op.

Natuurlik help dit nie om te tob oor wat verby is nie. Dat ʼn mens egter nuut en anders na die lewe, en in aansluiting by gister se boodskap, die oomblik, kyk is inderdaad so.

Wat lê vandag vir ons voor?

Die troos is dat die Here oral en altyd teenwoordig is. Hy is Immanuel, God met ons.

Dit wat betekenis het, in besonder ons verhouding met Hom en die sekerheid wat dit inhou, kan niemand van ons wegneem nie. Daardie sekuriteit oorspan tyd en ruimte.

Tog is ʼn mens diep, diep dankbaar as jy gespaar word om die storie te vertel, om weer na te dink oor alles, om jou prioriteite te heroorweeg, om jou seëninge te tel, om jou mense lief te hè.

Ongeag van wat vandag inhou, God is reeds daar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Di ·

So waar! Ons kan elke oggend net dankie se dat ons nog ‘n dag gespaar is in ‘n land wat deur kriminele oorgeneem is.

Derek ·

Ons geloof in ons Redder en Verlosser is van kardinale belang. Ek en my gesin het reeds 3 keer die dood getrotseer, in 2009 in Rustenburg het hulle my vleis vir braaivleis vergiftig, in 2014 was ons aangeval in ons huis in Oos Londen en in 2016 het n mislukte ontvoering plaasgevind in Musina op my vrou en seun. Kommerwekkend dat sogenaamde Christene hierby betrokke was, mense wat elke Sondag in die kerk sit en dat dit my eie mense is, alles net oor geld. Hierdie land wat se grondwet die vryheid van godsdiens regverdig, waar God die Heilige Gees op dieselfde vlak as godsdiens gereken word, die onvergeeflike sonde. Dankie vir Jesus Christus, sy engele en Sy bloed van genade elke dag oor Sy volgelinge.

Sandra ·

“Ongeag wat vandag inhou, God is reeds daar”. So het ‘n ou tannie van ons kerk eendag gebid. En van alles wat sy gese het, het God is reeds daar my nou al vir jare bygebly. Dit het oor ‘n kleiner insident gegaan, van ‘n vrou wat bang was om die kerk se tiendes, want sy was ‘n diaken. by ‘n sekere huis moes gaan kry. Maar ondervinding het haar geleer dat dit nie so maklik is by die spesifieke huis nie. Dit het haar ontstel. Toe bid die tannie die sin, en almal voel weer op hulle gemak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.