ToekomsVenster: Kan ons anders dink oor Covid-19?

Kerse_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan. – Josua 1:9

Prof. Kobus Kok (Evangeliese Fakulteit, Leuven) deel die volgende akroniem wat verband hou met die gevreesde Covid-19 virus.

  • C – Christus / Christ
  • O – Ons / Our
  • V – Verlosser / Victory
  • I – In / In
  • D – Dreiging / Distress

Korona is boonop die Latynse woord vir kroon of krans.

Ons beleef uitsonderlike dae. Die wêreld is in rep en roer terwyl die virus onstuitbaar voort woed. Die dae van inperking sit ongemaklik in ons klere. Ons is nie gewoond aan stilsit nie.

Die wyse waarop mense na God vra is bemoedigend. Bykans elke boodskap wat op sosiale media gedeel word, het ʼn geestelike ondertoon. Humor laat ons vir ʼn oomblik glimlag maar dit is die Waarheid van God se Woord, sy teenwoordigheid en uitsonderlike genade en beskerming wat ons dra.

Die waarheid dat mense sterf het naby gekom met die dood van my vriend, Louis Wilsenach aan Covid-19. Sy energieke teenwoordigheid bly ʼn mens by. Muldersdrif waar Louis gewoon het, is skaars 10 kilometer van ons af. Covid-19 het ook in ons omgewing ʼn draai kom gooi. Dis nie meer ver nie. Dis hier, dis werklik en dis gevaarlik.

Die mooi akroniem wat prof. Kobus met sy kinders deel (kom ons doen dieselfde) gee onmiddellike ʼn ander perspektief op die aanvegting wat ons beleef. God het sy troon nie geabdikeer nie. Hy gooi nie hande in die lug en wonder spreekwoordelik waarheen nou nie. Die misterie van wat God se plan, plek, betrokkenheid, rol, bedoeling, teenwoordigheid in hierdie hele aangeleentheid is, is onkenbaar.

Daar is ʼn verskil tussen verstaan en vertrou. As rasionele mense wil ons verstaan, sin maak van wat rondom en met ons gebeur. As dit sin het, word dit draaglik. Geloof werk anders. Geloof gee toe dat so baie dinge onverstaanbaar is. Lyding is een daarvan. Eeue lank probeer mense sin maak daarvan. Niks daarvan bevredig nie

Ek gee hier ’n eerlike erkenning dat die rede (dalk nie eers die regte woord nie) vir hierdie toedrag van sake vir ons ontoeganklik is.

  • Is dit die natuur se manier om sy voortbestaan te balanseer en te reguleer?
  • Is dit mense se onverskilligheid?
  • Is dit God wat slae uitdeel? (Ek oorweeg hierdie opsie glad nie. Sy Seun het reeds betaal).

Misterie. Onverstaanbaar. Tog bly die akroniem onteenseglik waar. Dit is die een waarheid wat soos ʼn paal bo water bly staan. Christus ons Verlosser in en te midde van bedreiging. Hy dra die Kroon.

Mag jy vandag nuwe vrede vind in die wete dat Hy ons nie aan onsself en omstandighede oorlaat nie.

Wees sterk. Moenie bang wees nie. Die Here is by jou.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frieda ·

Dankie Here vir U teenwoordigheid in alle omstandighede!! Amen

Yvonne ·

Dankie Here dat ons in die bedreiging by U kan skuil……U het belowe dat in lewe en dood niks ons van U liefde kan skei nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.