ToekomsVenster: Ken die krag van die Gees


Foto: pixabay.com

Foto: pixabay.com

KEN DIE KRAG VAN DIE GEES

Die krag van die Heilige Gees wat in ons werksaam is, deins vir niks terug nie. Inteendeel, Paulus skryf in Romeine 8:11 dat die Gees van God selfs nie deur die dood ingeperk kan word nie:

Omdat die Gees van die God wat Jesus uit die dood opgewek het in julle woon, sal Hy wat die dooie Jesus opgewek het, ook julle dooie liggame weer lewendig maak deur dieselfde Gees wat in julle woon.

Is dit nie wonderlik nie? Ons kan nie sonder die Heilige Gees lewe nie, want slegs Hy kan ons deur die dood tot in die ewige lewe begelei. Hy wil ons egter ook terwyl ons nog op aarde leef in staat stel om deur God se krag te opereer. Hy, wat in ons is, is magtiger as die gees wat in die wêreld woon (1 Johannes 4:4) en kan deur niks en niemand ingeperk of beperk word nie!

Christene wéét dat God die finale gesag het, maar ons moet leer om doelgerig vanuit hierdie waarheid te opereer. Diegene wat hulself besig hou met die donker kant van die lewe, gee báie aandag aan die belang van outoriteit in die geestesdimensie. Mense in die greep van sangomas, animisme en satanisme hou hulself grootliks besig met aktiwiteite in die geestesdimensie in ʼn poging om meer mag te verkry. Ons as Christene behoort baie meer as hierdie mense sensitief te wees vir die waarheid dat ons geroep is om deur die Gees van God, wat onwankelbare gesag het, te opereer.

WANNEER GEESTELIKE AKTIWITEITE VERHOUDING VERVANG

Daar bestaan egter steeds ʼn groot gevaar dat jy jouself kan besig hou met geestelike aktiwiteite, sonder om ooit die besonderse teenwoordigheid of krag van die Heilige Gees in jou lewe te aktiveer. Ek kan nog goed onthou hoe my Nuwe Testament-professor my gereeld gevra het of die mense al huil wanneer ek preek. Elke keer wat ek ontkennend geantwoord het, het hy my aangeraai om meer te bid. Nes ek later sou leer, het Petrus ook eerstehandse ervaring gehad van ʼn lewe waarin God se Gees op ʼn dag op ʼn buitengewone wyse begin werk het. Dieselfde man, wat vantevore te bang was om aan ʼn diensmeisie te erken dat hy Jesus ken, kon ná die uitstorting van die Heilige Gees vreesloos voor skares getuig dat Jesus die Redder van die wêreld is, vergelyk Lukas 22:54-63 en Handelinge 2:14-36.

Johannes die Doper se woorde dat Jesus gekom het om ons met die Heilige Gees en met vuur te doop (Lukas 3:16) is belangrik vir die kerk van die 21ste eeu. Die bose sidder wanneer gelowiges deur die krag van die Heilige Gees begin lewe. Daarom probeer die bose alles in sy vermoë om ons te oortuig dat ons fisieke omstandighede al ons aandag verg, sodat ons nie op ons verhouding met God sal fokus nie.

TOEWYDINGSMOMENT

ʼn Kragtelose geloofsgemeenskap is ʼn anomalie. Alle gelowiges behoort in en deur die krag van die Heilige Gees te lewe! God se werk in jou is nie afgehandel toe jy tot geloof gekom het nie! Jy is geroep om die evangelie van Christus se redding met krag te bedien en nie slegs te ontvang nie! Laat toe dat die Heilige Gees in jou ʼn honger na sy buitengewone seën en gawes wakker maak.

GEBED

Heilige Gees, ek is jammer oor al die verspilde geleenthede toe ek in eie krag geopereer het, terwyl u krag tot my beskikking was. Vergewe my asseblief. Ek wil voortaan deur u krag opereer. Gebruik my tot u eer.

PRAKTYK

Bedink jou geestelike posisie binne jou geloofsgemeenskap en hoe vandag se boodskap dit beïnvloed. Definieer dit in jou joernaal.

ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Estelle ·

Goeie more

Dis vi my so lekker om di boodskap te kan ontvang en copy en aan te stuur vi my ander maatjies.

Ek is net bietjie teleurgesteld dat Wanneer n mens in di toekoms venster in gaan om verder te lees……., jy niks daar kan copy en kan aan stuur ni.

Dit sal so gaan en nice wees as jul dit kan verander.

Soos ek wou nou di gebed van vandag copy maar kani.

Baie dankie
Vriendelike groete
Estelle

Landi Slatter ·

Dagsê Estelle,

Dankie vir jou terugvoer! Ons moes ongelukkig die funksie wat mens toelaat om teks op die webwerf te kopieer of dat iemand kan regsklik en dan die dokument te kan uitdruk, deaktiveer, aangesien sommige webwerwe ons inligting onregmatig gebruik het.

Jy is welkom om ‘n skermskoot van die teks te maak en dit só te gebruik of aan te stuur.

Groetnis
Landi nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.