ToekomsVenster: Ken en lees jy die Woord

(Foto: Ahmed Zayan/Unsplash.)

Lees Deut. 6:1-9

  • 1 – Dit is die wet, die voorskrifte en die bepalings, wat die Here julle God my beveel het om vir julle te leer, sodat julle daarvolgens kan lewe in die land wat julle in besit gaan neem.
  • 2 – “So sal jy die Here jou God jou lewe lank kan dien en gehoorsaam wees aan sy voorskrifte en gebooie wat ek jou gegee het, jy en jou hele nageslag, en dan sal jy ‘n lang lewe hê.
  • 6 – “Hierdie gebooie wat ek jou vandag gegee het, moet in jou gedagtes bly.
  • 7 – moet dit inskerp by jou kinders en met hulle daaroor praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan.
  • 8 – Jy moet dit as herinneringsteken vasbind aan jou hande, en dit moet ‘n merk op jou voorkop wees.
  • 9 – Skryf dit op jou deurkosyne en op jou stadspoorte.

Die Woord van die Here is die rigsnoer vir die pad. Wie die Woord verwaarloos, verwaarloos sy geestelike lewe. Wie daaraan die regte plek gee pluk die vreug van vrede en vreugde ten spyte van omstandighede.

Ps. 1 praat van ʼn mens wat soos ʼn boom by waterstrome gevestig staan. Die wind kan opsteek, die stormweer kan dreig, wat ook al gebeur, die boom staan en weerstaan alle omstandighede.

Dit beteken nie dat die boom dit nie somtyds moeilik het nie, dat droë jare nie aanbreek nie, dat veldbrande nie ontstaan nie. dat rukwinde nie kom nie. Omdat dit egter die gewortel is in die grond kan dit al hierdie beproewinge weerstaan.

Ons leef dikwels gejaagd en onder dwang van ons dagboeke. Ons leef in ʼn kompeterende en suksesgedrewe konteks. In so ʼn konteks moet ʼn mens op datum bly met nuwere verwikkelinge of agter bly. Jy moet nuut en vars dink, beplan en uitvoer.

Dink net aan die uitdaging wat Covid-19 aan een en elkeen kom stel het. Derhalwe word van die nuwe normaal gesels. In ʼn sin het die ou dinge verbygegaan, alles het nuut geword.

Ek onderstreep hierdie realiteit omdat ʼn mens somtyds in die stryd om oorlewing belangrike dinge agterweë laat. Die Woord moet wag want die lewe gebeur.

Die Here verwyt, verwaarloos en straf nie. Die skade is aan ons kant.

Ouers het die verantwoordelikheid om ʼn liefde vir die Bybel by hul kinders te kweek. Dit gebeur wanneer ouers die verhale van die Bybel van jongs af aan kinders voorlees.

Kinders hou van stories en die Bybel het baie stories sonder om aan die waarheid daarvan afbreek te doen.

Die wyse waarop die Woord beslag wil lê op jou hele lewe word grafies beskryf in die teks. Jou gedagte wêreld, dink en mediteer daaroor. Jou hart en siel en krag sluit eweneens alles in. Elke oomblik moet benut word om met jou kinders oor die Woord te gesels.

Jou hande moet doen wat die Woord sê, daarom word dit as herinneringsteken aan jou hande vasgebind. Jou wil, begeerte, doen en late moet daardeur bepaal word.

Dit herinner my aan Ps. 119 waar die digter mymer oor die baie spesiale plek wat die Woord van God in sy lewe inneem.

Mag ons die Woord wat gedurig na ons toe kom nie verwaarloos nie, veral as ʼn mens daaraan dink dat daar baie dele van die wêreld is waar Christene nie gemaklik, vrymoedig en openlik uit die Woord mag lees en daaroor getuig nie.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Here dankie vir U Woord…dankie dat ek dit dorstig kan drink…dat ek dit kan lees…..dat ek my hoop , my gedagtes, my alles hierop kan skoei

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.