Die offer wat U wil hê, o God, is verootmoediging: U sal ’n hart vol ootmoed en berou nie gering ag nie, o God. – Psalm 51:19
Die Bybel sê op verskillende plekke dat God niks van hoogmoedige mense hou nie (Jak. 4:6).
Sulke mense dink hulle is beter as ander, meer dikwels op grond van wat hulle besit, of wie hulle (dink) hulle is.
Dis mos maar die eerste vrae wat ons mekaar vra – wat is jou naam, waar bly jy en wat doen jy?
Hoewel die vraag dikwels heel onskuldig is, is daar ook mense wat aan die hand van die terugvoering wat hulle kry ʼn waardeoordeel oor mense fel. So word besluit of hierdie mense deel kan wees van hul belangegroep en of hulle op grond van die antwoorde wat hulle gegee het, uitgesluit is.
Hoogmoedige mense, sonder dat hulle dit sê, is dikwels selfvoldaan en tevrede. Hulle het niemand en niks nodig nie, ook nie vir God nie.
God soek na mense wat hul plek voor Hom ken. Voor Hom is alle mense aangewese op genade. Ons het niks om op te roem nie behalwe ons desperate afhanklikheid van Hom. Sulke mense is welkom by God.
- Bel Drienie by 011 665 2017 of besoek ons by www.toekomsvenster.co.za asook www.toekomsvenster.bybelmedia.org.za vir inligting oor ʼn verskeidenheid stiltetydhandleidings, kleingroep-DVD’s asook preeksketse vir leraars en gemeentes.