ToekomsVenster: Kerse is vir die donker bedoel

Foto: @davidsonluna/Unsplash

My beter helfte vertel hoedat haar pa saans wanneer hulle rondom kerslig gekuier het (daar was nie elektrisiteit op die plaas nie, ten minste nie aanvanklik nie) met die kerswas diertjies gemaak het. Dit het die kinders se verbeelding aangegryp terwyl Koos, haar pa, soos ʼn wafferse beeldhouer die diereryk huis toe gebring het.

Dit is hierdie dinge wat ʼn mens bybly, nie waar nie.

Kuiers in die “voorhuis” soos dit vanmelewe genoem is terwyl ʼn paar kerse in blik blakers rondstaan.

Hier en daar verbrand ʼn mot sy vlerke en wanneer die kers ten einde laaste uitgeblaas word bly ʼn straaltjie rook agter en die reuk van kerswas. Niks ruik soos ʼn kers se damp nie. Dis bekoorlik en gesellig.

Mens steek nie kerse in die dag aan nie tensy jy marsmellows braai en daarvoor moet ʼn mens ʼn braaivleisvuur hê om regtig daaraan reg te laat geskied. Kerse is vir die nag gemaak.

Die nag, metafoor vir die minder goeie en minder aangename tye van die lewe, kan ook gesellig wees.

Diepgaande gesprekke met geesgenote oor die sin van dit alles, saam bid oor ʼn uitdagende probleem terwyl die kers-rokie soos wierook voor God se genadetroon opstyg en kruisies as simbool van redding uit die gesmelte kerswas giet, is alles gawes van die nag.

Dis nie net sleg nie, mits jy nie alleen is nie. Selfs dan is daar hulplyne beskikbaar. Daar is ʼn vriend of vriendin wat nie sal omgee as jy skakel nie.

Die Gees van die Here verlaat jou nooit en hou jou geselskap wanneer die alleenheid op jou toesak.

Ps. 139:12 – maar vir U is selfs die duisternis nie donker nie en die nag so lig soos die dag, duisternis so goed soos lig.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.