ToekomsVenster: Kies om te glo in 2020

Foto: Jordan McGrath/Unsplash.com

Die Here is my rots, my skuilplek en my redder, my God, my rots, by wie ek skuil, my skild en sterk verlosser, my veilige vesting. – Psalms 18:3

Ons gaan gedurende hierdie week saamkuier oor die geleenthede en uitdagings wat ʼn nuwe jaar aan gelowiges bied.

Die bekende dr. Isak Burger skryf in ʼn artikel “Vir die wat kies om te glo kan 2020 maar kom” na die gedempte atmosfeer waaronder Suid-Afrikaners in 2020 leef. Daarmee is ons almal bekend. Burger gaan voort om daarop te wys dat geloof dikwels betekenis en kragtige inhoud vertoon wanneer omstandighede nie ideaal is nie. Dit is wanneer die beste in die lewens van God se kinders na vore kom.

Hy verwys na die skugter en tengerige skulpies en mossels wat te midde van herhaalde aanslae van golwe wat meedoënloos daarteen spoel, tog behoue bly. Die geheim lê daarin dat hulle aan ʼn rots vaskleef. Ons word geroep om te midde van baie moeilike omstandighede ons nie te laat intimideer deur al die negatiewe dinge wat rondom ons gebeur nie. God is in beheer. Die Psalmdigter herinner ons daaraan dat Hy hoog bo die gedruis van baie waters steeds troon in sy koninklike heerskappy.

Sy kinders kan inderdaad met oorgawe en entoesiasme lewe ongeag watter storms die toekoms mag inhou. Dit is nie die eerste ongemak wat ons in Suid Afrika, desnoods ook in ons persoonlike lewens, beleef nie en ook nie die laaste nie. Gister, vandag en tot in alle ewigheid is ons Vader betroubaar en liefdevol. Hy sorg en versorg.

Inderdaad. Vir die wat kies om te glo, kan 2020 maar kom.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.